As jy nog nie kaartjies het vir die Bakgat Country Opskop nie, moet jy gou spring.
Die gewilde vertoning is terug vir ’n tiende keer by die Grand Arena by GrandWest op Saterdag 3 Junie om 18:00 ná ’n paar jaar se afwesigheid weens die pandemie.
Soos tevore wag daar ’n propvol program met van die land se beste countrymusiek-kunstenaars.
Die kunstenaars wat vanjaar optree, is die driemanskap van West, Tarryn Lamb, Joanna Field, Tommy Dell, Ray Dylan, Elandré, Chris Else, Dodo, Chereé en die twee wenners van die 2021-’22 Bakgat “Country Search”-kompetisie, Karla Gouws en Gypsy, wat begelei gaan word deur ’n negestuk-orkes genaamd The Banned.
By vanjaar se vertoning sal ook hulde gebring word aan plaaslike countrymusiek-bekendes wat die afgelope paar jaar oorlede is, onder wie Lance James, wat by al die vorige Country Opskop-vertonings opgetree het.
Dodo Nyoka en Chris Else is twee jong kunstenaars wat in die pandemie-jare opgang in die musiekbedryf gemaak het en gaan hul eerste verskyning op die Opskop-verhoog maak.
Eerste verskynings
Dodo, naaswenner van Die Kontrakreeks2,is in die DRK gebore en het in die Oos-Kaap grootgeword. Hoewel sy moedertale Xhosa en Frans is, het hy verlief geraak op Afrikaans – ’n taal waarin hy sê hy uiting aan sy gevoelens kan gee.
Hy het sy biologiese familie en ’n Afrikaanse familie en is trots op albei. Dodo het op skool gehakkel en sang is as kommunikasie-hulpmiddel ingespan. Ná matriek in 2019 het hy ’n beurs gekry om siviele ingenieurswese by Tukkies te studeer, maar as gevolg van Covid-19 kon hy nie gaan studeer nie en het hy besluit om ‘n loopbaan in musiek te volg.
Hy het begin met optredes in ’n koffiewinkel in Kemptonpark en kroeë. Sy paaie het met dié van Coleske Artists gekruis met sy inskrywing vir Die Kontrak. Dit was ’n hoogtepunt in sy loopbaan, waarna hy ook sy buiging op die Afrikaans is Groot-verhoog gemaak het.
Chris Else, wat voorheen baie korporatiewe werk gedoen het, se loopbaan het met die hulp van sosiale media vlamgevat.
Chris het in die streng inperking in 2020 begin met optredes op Facebook. Sy aanhangers het binne maande vertienvoudig – van rondom 4 000 tot meer as 40 000. Deesdae volg 117 000 mense sy blad.
Hy kom uit ’n groot gesin van nege kinders, wat almal musikaal is. Sy pa kon nege instrumente bespeel.
Beperkte kaartjies van slegs R120 is nog by www.iTickets.co.za beskikbaar.





