Kapt. Wayne Theunis praat met die bejaardes oor veiligheid.FOTO’s: Verskaf


Die buurtwagte in Goodwood tesame met die gemeenskapspoli­siëringsforum (GPF) het op Vrouedag die senior vroue by die Protea-ouetehuis gaan bederf.

Al drie buurtwagte, wat bestaan uit Glenwood, Goodwood en Tygerdal, het ingespring om van hierdie dag ’n sukses te maak.

Clinton Roux, die Tygerdal-buurtwag se ondervoorsitter, wat ook die seremonie­meester op die dag was, sê hierdie gesamentlike byeenkoms was ’n groot sukses en dat selfs die jonger mense dit geniet het.

“ ’n Dag gevul met lag, tee drink, fisioterapie en bederf,” sê Roux.

Goodwood Armed Patrols (GAP) was ook teenwoordig en het hul baniere buite langs hul voertuie vertoon.

Kapt. Wayne Theunis van die Goodwood-polisie het die gebeure geopen met gebed en die senior vroue bedank vir hul rol oor die jare heen.

Hy het ook veiligheidswenke aan hulle verskaf.

Die senior vroue het ook fisioterapie ontvang.

Dit is deur Annemarie Steyn van die Suid-Afrikaanse Fisioterapievere­niging aangebied.

Hulle het tee gedrink en koekies geëet, en is elk met ’n geskenkpakkie bederf, terwyl mooi agtergrondmusiek gespeel het.

“Ons het ’n gelukstrekking gehou vir tien vroue om elkeen ’n manikuur te wen,” het Jas Visser, die ondervoorsitter van die Glenwood-buurtwag, gesê.

Volgens Visser was dit ’n absolute voorreg om Vrouedag saam met sulke lieflike vroue te kon vier.

“Almal het lekker gekuier,” sê Visser.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article