Kapt. Wayne Theunis, woordvoerder van die Goodwood-polisie, het op Sondag 31 Maart ná 37 jaar amptelik sy polisiestewels opgehang en sien nou daarna uit om ’n rustige aftrede te geniet.
Theunis vertel dat hy in Elsiesrivier gebore is, maar op die ouderdom van agt jaar na Belhar verhuis het, waar hy grootgeword het en nog steeds woon.
“My reis in die polisie het op 7 Mei 1987 begin toe ek as vooropleidingstudent in Ravensmead gewerk het. In Junie 1987 is ek na die Bishop Lavis-kollege. Op 7 Desember 1987 het my Goodwood-loopbaan begin. Ek het ’n keuse gehad tussen dramastudies by die Universiteit van Kaapstad, waar my studies deur iemand betaal sou word.
“Ek wou met mense werk en het die polisie bo drama gekies – iets waaroor ek nie spyt is nie. Van jongs af was mense en veral jongmense my passie,” sê Theunis.
Hy sê daar was baie hoogtepunte oor sy loopbaan heen. “Ek was bevoorreg om ’n program, Wayne’s World, by Goodwood se skole te begin. Deur hierdie program kon ek met kinders werk. Later was ek ook die koördineerder van slagoffer-ondersteuning in Goodwood. As opgeleide berader kon ek nog ’n passie uitleef.
“In 2003 is ek as onderoffisier van die jaar vir die Bellville-streek gekies,” sê hy.
Verhoudings gebou
“Die menige verhoudings wat gebou is deur my werk, was net deur die genade van die Here. My geloof in God en ’n sterk dekking in gebed deur my vrou, ouers en gemeente was wat my vorentoe gedryf het. Ek het dit ook geniet om talle jong konstabels op te lei. Ek glo dat ’n mens jou kennis aan ander moet oordra,” sê Theunis.
Hy wil nie baie konsentreer op laagtepunte nie omdat hy homself as ’n positiewe mens beskou. Maar hy meen teleurstellings het hom net gemotiveer om suksesvol te wees. “Hier dink ek aan die eerste paar jaar toe daar nog apartheid was. Ek was maar baie uit witmense se huise gejaag, maar selfs dit het my nie ondergekry nie,” vertel Theunis.
“Tweedens kan ek die bevorderingsbeleid in die polisie ook as iets negatief beskou, maar ek glo my loopbaan was in God se hande en so ook my bevordering,” voeg hy by.
Polisie nie ’n werk, maar roeping
“Wat ek graag wil beklemtoon, is dat my lewe in die polisie nie ’n werk was nie, maar ’n roeping. Ek sien baie uit na ’n rustiger lewe, want ek moes baie na ure werk. En hier moet ek my vrou bedank vir die jare wat sy my met kerk en werk gedeel het. Baie aande moes sy maar alleen aan die slaap geraak het, want ek was by ’n vergadering, misdaadtoneel of besig met slagoffers van misdaad,” vertel Theunis.
“Ek gaan my polisiefamilie mis en ook die skole waar ek meeste van my tyd deurgebring het,” sê hy.
Hy het ’n nuwe hoofstuk in sy lewe begin as veiligheidsbeampte by die Laerskool Koos Sadie.
“Ek is dankbaar vir die geleentheid om my passie vir kinders daar voort te sit. Jeremia 29 vers 11 is my behoud,” sê Theunis.




