Goodwood-biblioteek laat g’n gras onder sy voete groei

Personeellede van die brandweer- en reddingsdienste het met die kinders gesels as deel van die vakansieprogram.

Credit: SYSTEM

Weens Covid-19 moes die meeste biblioteke noodgedwonge hul deure toemaak. En nou ná twee jaar sien die personeellede mekaar eers weer in lewende lywe.

Dit is ook die verhaal van die Goodwood-biblioteek, wat al 60 jaar bestaan. Hulle is terug en is weer volstoom aan die gang en nooi die publiek uit om die biblioteek te besoek.

Gedurende die vakansie het hierdie bib­lioteek ’n program aangebied waarin brandweer- en reddingspersoneel met die kinders kom praat het. Die kinders het maskers gemaak, kolwyntjies versier en bordspeletjies gespeel.

Altesaam 89 kinders het deur die loop van die week die program bygewoon.

Volgens Minda Maritz, hoofbibliotekaris, kom maar nog min mense weer biblioteek toe, maar dit word egter geleidelik besiger. “Ons sou veral meer kinders in die biblioteek wou sien,” sê sy.

Maritz noem ook dat daar weer soortgelyke programme in die Junie- en Julie-skoolvakansie vir die kinders sal wees.

Die publiek word aangeraai om die biblioteek se Facebook-blad en die media dop te hou.

Volgens die personeel van die biblioteek is dit lekker om weer normaal te kan werk, en al die ou bekende gesigte weer te kan sien. “Ons het sommige van ons lede twee jaar gelede laas gesien.”

Dit is ook lekker om weer te sien dat al die dienste wat die biblioteek bied nou toenemend weer gebruik word, soos die fotokopieerdiens en SmartCape-internet, sê Maritz.

Die biblioteek het gedurende die inperking slegs ’n “drop and collect”-diens gelewer: ’n beperkte aantal boeke is vooraf uitgesoek, wat dan op trollies in die voorportaal geplaas is sodat die publiek tog geleentheid gehad het om hul eie boeke te kies.

“Dit was ’n uitdaging om die regte boeke te kies. Ons moes besluit wat meer gewild sal wees, maar ook seker maak dat daar iets vir almal se smaak is,” sê Maritz.

Sommige lede van die publiek was baie gelukkig met die gekose boeke en ander was baie ontevrede. Sommige lede kon ook nie altyd verstaan waarom hulle nie in die gebou toegelaat kon word nie en die redes moes soms ’n paar keer verduidelik word. Talle was baie ongelukkig oor die toedrag van sake, en sulke konfrontasies was nie altyd aangenaam nie, sê Maritz.

Hierdie instansie bied nou ook gereelde storie-ure waartydens kinders van plaaslike skole die biblioteek kan besoek en stories aan hulle voorgelees word.

Daar is ook digitale lees-en-skryf-kennisprogramme waarin die publiek geleer word om die internet te gebruik.

Die biblioteek sal adverteer wanneer die volgende digitale lees-en-skryf-kennisprogram sal geskied.

Skole is baie welkom om hulle te kontak vir biblioteek-oriënteringsprogramme of sommer net vir ’n besoek aan die biblioteek.

Hulle probeer ook om programme of aktiwiteite aan te bied ter viering van geleenthede op die land se kalender, soos Jeugdag, Vrouedag, Erfenisdag en so meer.

Alles is in dié stadium nog in ’n beplanningsfase. Die biblioteek sal meer besonderhede nader aan die tyd bekend maak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article