Die Suidoosterfees se gewilde Golden Oldies-vertoning met Terry Fortune en veteraan-musieksterre toer na ouetehuise en aftreeoorde in en om Kaapstad.
Dié uitreikprojek mik daarna om 25 tehuise vir seniors te bereik en word aangebied met die ondersteuning van Burger King, TygerBurger en People’s Post.
Golden Oldies op toer bring ’n gratis op-en-wakker musiekvertoning van 45 minute aan senior burgers. Onder die veteraankunstenaars wat Terry Fortune vergesel, tel Vernon Castle, Leslie Kleinsmith, Sylvia Mdunyelwa, Zelda Benjamin, Danny Butler, Sandra Butler, Sharon Hartman en Ian Smith.
“Dié inisiatief sorg nie net vir heerlike vermaak in ouetehuise nie, dit bied ook vir senior kunstenaars ’n geleentheid om op te tree,” sê Jana Hattingh, uitvoerende hoof van die Suidoosterfees.
“Die projek fokus dus op gemeenskapsinteraksie, maar wil ook werksgeleenthede skep, daarom word die veteraankunstenaars wat deelneem vergoed,” sê sy.
Suidoosterfees is bekend as ’n kunstefees wat fokus op die ontwikkeling van nuwe talent.
Verskeie projekte word jaarliks aangebied waar belowende jong kunstenaars se vaardighede geslyp word.
“Daar is egter min of geen geleenthede vir senior kunstenaars nie, en veterane ouer as 60 word veral afgeskeep,” sê Hattingh.
Die Golden Oldies-vertoning is vroeër met groot sukses in Kunstekaap en die Baxter-teater aangebied. Die ondersteuning van die borgeskep egter nuwe moontlikhede sodat meer senior burgers in hul eie omgewing bereik kan word.
Volgens prof. Brian Figaji, die fees se direksievoorsitter, is dit belangrik om aan die gemeenskap terug te gee, en met die Golden Oldies-projek eerbiedig die Suidoosterfees sy mandaat om kuns na alle gemeenskappe te neem.
Kelvin Mckinnon van Burger King sê: “Ons is trots op hierdie vennootskap. Die vreugde en hoop wat musiek aan ons senior burgers bring is onbeskryflik.
“Die geleenthede wat deur dié projek gebied word aan mense wat hulle lewe lank ons samelewing gedien het, is van onskatbare waarde.”
Shafiek Braaf, verkoopsbestuurder van TygerBurger en People’s Post, deel Kelvin se entoesiasme: “Vir ons gemeenskapkoerante is dit só lekker om direk met seniors in ons areas in aanraking te kom en vir ’n slag iets aan hulle terug te gee.”
Leslie Kleinsmith, een van die kunstenaars wat opgetree het, sê dit was vir hom ’n wonderlike ervaring.
“Dit was verblydend om te sien hoe die mense dit geniet het. Ek het dit self geniet, maar toe ek sien van die mense het opgestaan en begin dans, was ek oorstelp van vreugde,” sê Kleinsmith.
Charles Esau, plaaslike raadslid en ook ’n direksielid van die Suidoosterfees, sê hy kon sien die seniors het hulle geniet. “Hierdie mense sien nie gereeld kunstenaars nie. Dit is vir hulle ’n geleentheid van ’n leeftyd,” sê Esau.
Die Suidoosterfees word moontlik gemaak deur die ruimhartige ondersteuning van die volgende borge en vennote: Media24, die departement kuns en kultuur, Stad Kaapstad en kykNET.
Altesame 25 optredes word by tehuise in Kaapstad en omgewing beoog, onder meer by Trans50 Panorama Palms, Matroosfontein Cottages, Huis Ravenzicht en La Vie est Belle-aftreeoord. Ondernemings en instansies wat Golden Oldies na tehuise in hul onmiddellike omgewings wil neem, kan die Suidoosterfees by 078 979 3541 bel.





