‘n Man wat skoolkinders vervoer se turf het Maandag gesit toe die metropolisie se veiligheidsbeamptes hom weens dronkbestuur in hegtenis geneem het.
Luidens ‘n verklaring deur die metropolisie het die bestuurder in ‘n rooi minibus oor ‘n stopstraat gery, waarna hy gevra is om af te trek. “Die beamptes het drank aan sy asem geruik en nadat hy erken het dat hy gedrink het, is ‘n asemtoets op hom gedoen. Die lesing het gewys dat hy ‘n bloedalkoholvlak van 0,24mg per 1000ml het. Die 34-jarige bestuurder is in hegtenis geneem en by die Bishop Lavis-polisie aangehou.
“Die eienaar van die minibus is gebel om die nege leerders te kom haal wat nog daarin was,” lui die verklaring.
Skoolvervoer was die laaste ruk onder die loep nadat 12 leerders op 19 Januarie gesterf het toe die minibus waarin hulle onderweg skool toe was, teen ‘n vragmotor gebots het.
Na aanleiding van daardie voorval het die Wes-Kaapse regering , in samewerking met die provinsiale verkeersdienste en munisipale verkeersbeamptes hul pogings om skoolvervoer te beveilig laat toeneem. Hierdie aksies het, volgens die Wes-Kaapse mobiliteitsdepartement, kommerwekkende vlakke van nie-nakoming van regulasies aan die lig gebring.
Tussen 14 en 23 Januarie is 1 600 voertuie afgetrek, 1250 boetes ter waarde van R580 000 uitgereik, 46 voertuie geskut en 23 voertuie onpadwaardig verklaar.





