Gert Theron en sy vrou, Eeufesia, bly deesdae in Durbanville.


Die sakeman Gert Theron, deesdae van Durbanville, het onlangs sy outobiografie Dreamworker hier in Durbanville bekendgestel.

Theron, wat in die sestigerjare die besturende direkteur van die suksesvolle Alwarvo Groep was, het bekend geraak toe bedrogsake en ’n smeerveldtog teen hom hom op sy knieë gedwing het. Dit het hom in 1971 insolvent gelaat. In sy outobiografie lê hy dit en ander feite bloot.

Die bekendstelling van die boek het op 28 Februarie in Durbanville tydens ’n emosiebelaaide aand plaasgevind.

Theron, sy vrou, Eeufesia, en hul drie seuns was die eregaste by hierdie spoggeleentheid. Een van sy seuns, dr. Rust Theron, ’n bekende internis in Durbanville, het ’n huldeblyk aan sy ouers by die bekendstelling gedoen.

Die omslag van die boek.

‘Onreg gepleeg’

“Daar is destyds ’n onreg teenoor my gepleeg,” het Theron by die bekendstelling gesê. “Vir jare het ek die gewig gedra van ’n diepgaande onreg – ’n skaduwee oor my reputasie. Gefluister en gerugte het my as ’n swendelaar voorgehou, wat die wese van wie ek is, aangetas het.”

Theron het gesê hy het ses jaar gelede begin om sy lewensverhaal te skryf. “Ek het besluit ek moet die feite regstel.”

Theron en sy vrou het destyds in 1974 op 18 aanklagte in die hooggeregshof in Kaapstad verskyn. ’n Jaar later is hulle in die appèlhof in Bloemfontein op alle aanklagte vrygespreek.

Gelukkig was die meeste van die hofverslae, verklarings en korrespondensie volgens hom beskikbaar.

“Dit het dit makliker gemaak om die gang van die gebeure aan te teken.”

Gert Theron se seun, dr. Rust Theron, ’n bekende internis in Durbanville, bring hulde aan sy ouers by die bekendstelling van die boek.

‘Moeilike tye’

Eeufesia het by die bekendstellingsaand vertel van die moeilike tye wat hulle destyds beleef het. Mense het hulle vir misdadigers uitgekryt en hulle bykans sonder vriende gelaat. Dit was veral ook hul drie seuns wat op skool deurgeloop het. Die seuns was nie welkom by maats of partytjies nie.

Theron het later na Amerika uitgewyk, waar hy by verskeie projekte betrokke geraak het. Adriaan Nieuwoudt se destydse vrotmelkskema het ook in Amerika posgevat en hy is wederregtelik daarmee verbind, het Theron gesê.

“Vir hierdie onreg moes ek 18 maande in verskeie Amerikaanse tronke deurbring voordat ek deur die appèlhof vrygelaat is – ook ’n feit wat die koerante verswyg het,” het hy gesê.

“Ek voel tevrede dat die boek Dreamworker nou my saak regstel en die sensasie van destyds besweer,” het hy gesê.

Die boek begin by sy kinderjare op Koringberg, waar sy pa die stasiemeester was, die Alwarvosage, asook sy verblyf van 10 jaar in Amerika.

Theron sê Dreamworker is op feite gebaseer.

“Maar dis allermins ’n strakke boek en lesers sal die verteltrant van die boek aangenaam vind,” meen hy. Die boek is geskryf deur die spookskrywer Danny Fourie, in opdrag van Theron.

Die boek kan teen R350 by Chantelle by chellie.ct@gmail.com bestel word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article