Kroeggeveg: inligting oor aanranders glo bekend

Philip Stander

Facebook

Die polisie het genoeg bewyse en inligting om twee mans aan te kla vir die aanranding op ’n 22-jarige man op Langebaan.

Só meen Jack Brice, private speurder by Lumkela Forensic Investigations in Pinelands, wat deur die slagoffer, Philip Stander, en sy gesin aangestel is om met die ondersoekproses te help.

Dis ’n skedule een-oortreding, en ek glo hulle (die polisie) het genoeg bewyse en inligting om voort te gaan.
jack brice

Een van die verdagtes in die aanval verlede week by Die Watergat-kroeg op Langebaan langs die Weskus, is glo van Kuilsrivier, sê Brice.

Hy kon egter nie spesifiek sê waar presies die man woon nie, behalwe dat hy en die tweede verdagte ongeveer 23 jaar oud is en albei onderwys studeer by ’n kampus op Wellington in die Boland.

Philip is glo met ’n skerp voorwerp bygekom nadat ’n bakleiery by die kroeg op Maandag 4 Julie uitgebreek het. Luidens mediaberigte wou Philip glo sy vriend help deur die bakleiery te stop. Philip is aan sy kop en gesig beseer. Hy is na die hospital gehaas en is Donderdag uit die Mediclinic Panorama ontslaan, sê ’n gesinslid.

“Dit gaan alright. Ek kan nie sê dit gaan beter nie, maar dit gaan aan. Hy is darem on the road to recovery,” sê die persoon.

Die Stander-gesin is instruksies gegee om nie met die media te praat nie.

Phillip herstel tans by sy ouerhuis in Durbanville.

Volgens Brice is die saak teen die twee verdagtes Vrydag aanhangig gemaak by die Langebaan-polisiekantoor.

“Dis nou in die hande van die ondersoekbeampte wat die dossier gaan voorlê aan die senior staatsaanklaer op Vredenburg. Die aanklaer moet dan sy beslissing maak. Dis ’n skedule een-oortreding, en ek glo hulle (die polisie) het genoeg bewyse en inligting om voort te gaan.”

Brice het in die ondersoek gehelp deur verklarings te neem by getuies.

Die verklarings is aan die polisie oorhandig.

’n Klag van aanranding met die doel om ernstig te beseer word ondersoek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article