Die stasiebevelvoerder van die Mfuleni-polisie het die beamptes geprys vir hul wonderlike werk ná hulle ’n 36-jarige man van sy ontvoerders gered het.
Vyf mans is Sondag in Ou Faure-weg in hegtenis geneem nadat die gemeenskap die polisie ’n wenk gegee het.
Volgens AO November Filander, polisiewoordvoerder, het die drama vroeër die dag begin toe die slagoffer deur die gemeenskap van ’n misdaad beskuldig is.
“Gemeenskapslede het glo die man aangerand, waarna hy na die Delft-daghospitaal geneem is. By die daghospitaal is die verdagte glo in die bagasiebak van ’n motor gelaai en die bestuurder het weggejaag,” sê Filander.
’n Parate gemeenskapslid het die polisie ingelig oor waarheen die motor gejaag het.
“Kapt. Granville Arendse, hoof van die misdaadvoorkomingseenheid, en konst. Waldimer Beukes is in kennis gestel en het die inligting opgevolg. By Ou Faure-weg het hulle die motor gesien en dit genader. Toe hulle die bagasiebak deursoek, is die slagoffer daarin gevind, met sy hande wat agter sy rug vasgebind is. Vyf mans van tussen 38 en 50 jaar van Delft is in hegtenis geneem op aanklagte van ontvoering en aanranding,” sê hy.
Kol. Sibolelo Mvundi, waarnemende stasiebevelvoerder van die Mfuleni-polisie, het die beamptes en die gemeenskapslede wat die wenk verskaf het, geprys. “As die polisie en die gemeenskap saamwerk, kan ons misdaad hokslaan,” sê hy.



