Die gemeenskap van Tuscany Glen is steeds geskok ná die skielike heengaan van ’n bekende in misdaadvoorkoming in dié gebied.
Neil John Theys was lank verbonde aan plaaslike buurtwagte en was ’n leier wat die belange van sy gemeenskap op die hart gedra het. Hy het verlede week skielik gesterf toe hy ’n hoofpyn by die huis gekry het.
Lilly Theys, sy lewensmaat van 21 jaar, sê sy is steeds geskok.
“Neil het opgestaan en ek het nog vir hom pap voorgesit. Hy het skielik ophou eet en het buite op die stoep gaan sit, want hy wou vars lug hê. Ná ’n rukkie het hy gevra of ek nie vir hom water kan bring nie. Hy het die water op sy gesig gegooi en gesê sy kop pyn verskriklik. Hy het my vasgehou en gesê hoe lief hy my het. Dit was amper asof hy my nie wou los nie. Nadat hy weer water oor sy gesig gegooi het, het hy gesê ek moet die ambulans bel, hy voel sleg,” sê Lilly.
Met die motor agterna
Volgens Lilly het Neil self in die ambulans geklim en gevra of sy saam met hom gaan inklim en of sy met die motor agterna gaan kom. Sy het met die motor gevolg. “Ek was by die hospitaal en is later weg om ’n geskenk te gaan aflewer. Die dokters het my gebel en gesê hulle gaan Neil na die UCT Akademiese Hospitaal oorplaas om ’n neurochirurg te spreek. Die Saterdagoggend het hulle my gebel om te laat weet ek moet al sy geliefdes bymekaar roep om hom te groet.
“Hy het ’n ernstige beroerte gehad en het bloeding op sy brein ervaar. Sy organe het ook ingegee. Alles het so vinnig gebeur,” sê sy.
Lilly beskryf Neil as ’n gemeenskapsmens.
“Ná die beroertes het ons gevoel hy moet die lewe rustiger vat, maar hy was altyd daar vir sy gemeenskap. Ek dink hy laat ’n goeie nalatenskap vir sy kinders en die gemeenskap. Ons sal hom mis.”
TygerBurger het nog onlangs met Theys gepraat toe hy deel was van ’n betoging by die Blue Downs-hof om te verhoed dat ’n vermeende verkragter borgtog kry. Die betoging was suksesvol.
Caswell Julies, ’n man wat Neil al jare lank ken, sê min mense het so baie vir die gemeenskap beteken soos Neil. “Dit is vir ons almal ’n groot skok en hy sal gemis word,” sê Julies.
Neil laat drie kinders, twee seuns en ’n dogter, agter.





