Die gemeenskap van Gersham en die groter Kuilsrivier is steeds geskok ná die skietvoorval waarin drie lede van ’n gesin van vier Sondagoggend (25 September) gesterf het.
Volgens inligting van verskeie bronne het die voorval omstreeks 00:30 by ’n woning in Ou Nooiensfonteinweg plaasgevind.
AO Joseph Swartbooi, ’n polisiewoordvoerder, het Sondag op TygerBurger se navraag gesê die Kuilsrivier-polisie ondersoek twee sake van moord en doen ook ’n geregtelike doodsondersoek.
Die polisiebeamptes het met hul aankoms op die toneel afgekom op die liggame van ’n man (48), ’n vrou (44) en ’n meisie (15) wat almal skietwonde gehad het, het Swartbooi gesê.
Kol. Jayce Naidoo, stasiebevelvoerder van Kuilsrivier-polisie, het Maandag gesê die man het vermoedelik sy vrou en dogter doodgeskiet asook skote op sy seun (21), wat daarin geslaag het om van die toneel te vlug, afgevuur.
“Die man het homself vermoedelik daarna geskiet”, het Naidoo gesê.
Met TygerBurger se besoek aan die toneel Sondag was ’n stukkende ruit van ’n groot venster aan die sykant van die huis sigbaar, met glasstukke wat aan die buitekant gelê het.
’n Koeëlgat was ook sigbaar in een van die ruite aan die voorkant (straat-aansig) van die huis in Ou Nooiensfonteinweg.
’n Aantal mense, onder wie bure, buurtwaglede, kennisse en familielede van die oorledenes het in die straat gestaan terwyl die polisie en forensiese beamptes hul werk afgehandel het. Verskeie was merkbaar hartseer en geskok oor die voorval.
Die oorledenes is Hilton en Annastasia van Zyl en hul dogter, Cassidy.
Annastasia, ook bekend as Stacey, was die voorsitter van die Gersham-buurtwag en ’n eiendomsagent by Kuils River Estates. Hilton het by ’n staalmaatskappy in Blackheath gewerk.
Na wat verneem word is die seun tans by familie en sou hy traumaberading ontvang.
Ebrahim Sawant, plaaslike wyksraadslid, het gesê hy het Annastasia goed geken vanweë haar betrokkenheid by die plaaslike buurtwag. Hy het sy medelye aan die familie oorgedra.
Kuils River Estates het Maandag ’n boodskap – gerig aan die gemeenskap, kliënte en kollegas – op hul Facebook-blad geplaas waarin hulde gebring word aan Annastasia.
“Die gebeure van vroeg Sondagoggend het ons en die gemeenskap van Kuilsrivier geskud. Woorde kan nie ons hartseer beskryf nie en ons harte gaan uit na die familie in hierdie moeilike tyd.
“Annastasia was ’n steunpilaar in hierdie gemeenskap. Sy het ons kliënte met meegevoel en integriteit gedien. Sy was ook by baie gemeenskapsprojekte betrokke. Sy was die verpersoonliking van Kuils River Estates se waardes. Sy sal gemis word,” lui die boodskap
Allen het ’n versoek gerig dat mense nie gerugte oor die moontlike verloop van gebeure sal versprei nie, alvorens die polisie se ondersoek na die feite afgehandel is nie.
“Ek moedig enigeen met inligting aan om die polisie te kontak,” het hy gesê.





