Vermeende diewe is besig om helder oordag 'n hek te steel.
Vermeende diewe is besig om helder oordag ‘n hek te steel.

Die gemeenskap van Silversands voel hulle kan nie nie net op hul hande sit terwyl misdadigers maak en breek net soos hulle wil nie.

Daarom het hulle nou besluit om straatverteenwoordigers vir elke straat te kies.

Die afgelope tyd gaan dié woonbuurt tussen Blackheath en Wesbank gebuk onder misdaad wat wissel van inbrake, straatroof en selfs moord.

Kan nie sit en wag nie

Chanay van Reenen (skuilnaam), een van die straatverteenwoordigers, sê hulle het besluit hulle kan nie net sit en wag vir die volgende misdaad om te gebeur nie.

“Die een tendens is dat booswigte tot in ons buurt kom met motors en inwoners beroof en dan doodluiters wegry. Dit gebeur sommer helder oordag. Verlede week het iemand met ‘n bakkie in die buurt ingekom en probeer om iemand se hek te steel. ‘n Vrou en haar kêrel is verlede week beroof en die kêrel doodgeskiet. Hy is dood net vir ‘n selfoon. Hier is bekende boewe wat in die omgewing met gevaarlike wapens rondloop,” sê sy.

Hoofpyn

‘n Ander groot hoofpyn vir die gemeenskap is die Hoërskool Fairdale.

“Dit was veronderstel om ‘n tydelike skool te wees, maar dit is intussen na ‘n permanente skool verander. Die probleem is nie met die skool nie, maar die leerders wat uit ander woonbuurte kom. Hulle het geen respek vir hierdie gemeenskap nie. Leerders staan en gebruik oop en bloot dwelms en wanneer hulle aangepraat word, raak hulle aggressief en intimiderend. Ons is al moedeloos, want as die polisie gebel word, is daar nooit bakkies beskikbaar nie,” sê sy.

Vermeende diewe is besig om helder oordag 'n hek te steel.
Vermeende diewe is besig om helder oordag ‘n hek te steel.

TygerBurger het by verskeie geleenthede berig oor die probleme wat met die skool verband hou.

‘n Matriekleerder van die skool is in 2022 in die straat voor die skool doodgesteek. Daar was al verskeie straatgevegte en by een geleentheid het leerders onverklaarbaar begin gil. Dit is in daardie stadium toegeskryf aan ‘n ritueel wat skeefgeloop het.

Die straatverteenwoordigers is getaak om met die inwoners in hul onderskeie strate kontak te maak oor gemeenskaplike sake, veral oor misdaad.

Probleemhuise

“Hier is probleemhuise in die gemeenskap wat nie net ‘n oogseer is nie, maar wat die boewe as wegkruipplek gebruik. Die huise is gestroop en hou ‘n groot gevaar vir inwoners in. Ons hoop om die aandag op ons probleme te vestig en om ander gemeenskapslede aan te moedig om saam te staan,” sê sy.

Van Reenen sê hulle beplan om in die toekoms met polisiebestuur te vergader om hul griewe te lug.

LEES OOK: Kerk in Silversands sukkel met riool wat vloei

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article