Gemeenskaplede moes verlede Maandag inspring en hand bysit toe ’n brand omstreeks 19:00 by ’n gebou in Plattekloof Glen uitgebreek het.
Jermaine Carelse, woordvoerder van die Stad Kaapstad se brand- en reddingsdiens, sê geen erge skade is aangemeld nie, en die oorsaak van die brand is nog onbekend.
“Die brand- en reddingsdiens het die noodoproep om 18:52 ontvang oor ’n gebou wat in Duinhoop-rylaan aan die brand was. Twee brandweerwaens is uitgestuur. Die brand was egter reeds geblus met die beamptes se aankoms op die toneel,” sê Carelse.
Dit was te danke aan inwoners en lede van die plaaslike buurtwag.
Riccardo Zappia, ’n inwoner, was een van diegene wat hand bygesit het.
“Ek het om 18:49 vanaf my huis opgemerk dat daar vlamme by ’n gebou uitborrel.”
Zappia het brandblussers by ’n nabygeleë kruidenierswinkel gegryp en die vlamme daarmee probeer blus. Hy moes twee brandblussers gebruik om die vuur in bedwang te bring, waarna hy ’n waterpyp gebruik het.
Lede van die buurtwag het ook aangesluit om hulp te verleen.
Deon Oosthuizen, adjunkvoorsitter van die Monte Vista Plattekloof Glen-buurtwag, was een van dié wat die vlamme probeer blus het terwyl hulle op die brandweerdiens gewag het.
“Ons vinnige reaksie het veroorsaak dat minimale skade deur die brand aangerig is,” sê Zappia. Hy beweer die brand is gestig deur ’n persoon wat deur kringtelevisie opgeneem is.
Oosthuizen het verlede Vrydagoggend bevestig dat ’n verdagte in verband met die brand deur die Goodwood-polisie in hegtenis geneem is. Op die dag van die voorval was hy onderweg na ’n vergadering toe hy ook op die brandende gebou afgekom het.
“Ek het in Monte Vista-boulevard afgekom toe ek die digte rook opgemerk het. Die wind het ook nie gehelp nie.”
Hy het medebuurtwaglede en die Stad se nooddiens ontbied. Hy het ook met behulp van ’n werker van ’n nabygeleë winkel ’n waterpyp gegryp en die vlamme begin blus. Dit het sowat 15 minute geneem om dit in bedwang te kry. Die buurtwag, polisie en private sekerheidsbeamptes het intussen aangesluit, sê Oosthuizen, wat self ’n ervare brandbestryder is.
“Ons het die water aanhou spuit aangesien dit baie warm was en die brand aanhoudend weer opgevlam het.
“Die private sekerheidsbeamptes het ook ’n brandblusser gebruik om te help, wat ’n reusesukses was.”
Hulle het die brand probeer beheer totdat die brandweerdiens opgedaag het.
“Dit was ’n groot spanpoging deur die gemeenskap om die vlamme te beheer. Ek is net bly niemand het seergekry nie,” sê Oosthuizen.





