Ná ’n onderwysloopbaan van 35 jaar by die Hoërskool Brackenfell het die skoolhoof, Jannie Muller, met sy aftrede einde Maart die skool gegroet.
Maar soos die leuse by Brakkieland lui: “Eenmaal ’n Brakkie, altyd ’n Brakkie”, en so sal hy ook altyd in murg en been bly.
Muller was legendaries by die skool, waar hy sedert 1989 sy unieke stempel afgedruk het.
Hy was ’n man na wie leerders kon opkyk – letterlik en figuurlik. Sy statuur was een van die dinge wat hom ’n gerespekteerde man by die skool gemaak het. Kinders het nie sommer met hom skoorgesoek nie. Maar hy is ook baie keer deur oudleerders beskryf as ’n groot “teddiebeer” met ’n omgeehart.
Dit was juis sy liefde vir sport, kinders en mense wat hom in die onderwys laat beland het.
“My ma het volgehou dat ek dominee moes word, maar ek het onderwys gekies en vandag kyk ek nie een oomblik terug nie. Dit was die ideale beroep vir my. Kinders is fantasties. Hul onskuld, naïwiteit, leergierigheid en entoesiasme oor hul drome is iets wat my altyd sal bybly. Ek kon darem my lyf so nou en dan dominee hou wanneer ek saalbyeenkomste met skriflesing en gebed moes lei,” sê hy.
Sy toewyding, deeglikheid en harde werk spreek vanself.
Muller is in Oos-Londen gebore, maar die familie het later Herbertsdale toe getrek, waar sy pa geboer het. Toe Muller begin skoolgaan, het die familie Mosselbaai toe getrek om nader aan die skole te wees.
Hy het sy skoolloopbaan by die Laerskool Park begin en by die Hoërskool Punt afgesluit, waar hy hoofseun was. Ná matriek het hy sy opleiding by die Oudtshoorn-onderwyskollege voltooi waar hy in biologie en landbou gespesialiseer het. Ook daar is hy verkies as studenteleier.
Van daar het hy sy weermagopleiding gaan doen en kort daarna in 1989 as onderwyser by die Hoërskool Brackenfell aangesluit.
Graadhoof
Sy vakgebied was biologie en natuurwetenskappe en op die sportvelde was hy rugby-, krieket- en tennisafrigter. Hy is later gekies as graadhoof en visehoof van sport. Hy het later jare die pos van adjunkhoof beklee en in 2017 skoolhoof geword.
Groot hoogtepunte in sy loopbaan by die skool was gewis die jare wat die skool ’n 100%-slaagsyfer behaal het. Op sportgebied het sy betrokkenheid by die afrigting van bekendes soos Cheslin Kolbe, Courtnall Skosan en Dane Patterson uitgestaan.
Onder sy leiding is die skool se infrastruktuur verbeter. ’n Astrobaan is gebou, sonpanele is aangebring en onlangs is spreiligte op die A-veld opgerig.
Muller onthou Brackenfell in die jare tagtig as ’n klein plattelandse dorpie heeltemal verwyder van Kaapstad.
“Al waarvoor die dorp bekend was, was die Hipermark. Daar was seker net een huis in Vredekloof, dié van die destydse burgemeester, en net ’n paar huise in Proteahoogte. Die skool het sowat 650 kinders gehad. Ons was ’n klein gemeenskappie. En kyk, vandag bars Brackenfell uit sy nate,” vertel hy.
Sy nalatenskap by die skool is merkbaar in die uitslae van die mees onlangse onafhanklike evaluasie deur die provinsiale onderwysdepartement, waarin die skool volpunte gekry het op elke gebied.
“Dit is my hoop dat ek ’n verskil kon maak in mense se lewens, veral die leerders en onderwysers, en dat ek die skool op ’n beter plek gelaat het. Onderwysers is kosbare juwele. Daar word deesdae so baie van hulle verwag en so min waardering getoon. Die samelewing moet dit besef en ek hoop en bid dat onderwysers in die toekoms meer ondersteun en waardeer sal word,” sê hy.
“Om as kaptein aan die stuur van hierdie ongelooflike skool te kon staan, was vir my ’n voorreg. Elke besluit wat geneem is, was in die beste belang van die skool en die gemeenskap.
“Die ongelooflike prestasies van kinders op akademiese, kultuur- en sportgebied het my laat bars van trots. So baie Brakkies het ná hul skoolloopbaan van die hoogste posisies in hul veld behaal. Dit was ook ’n voorreg om saam met gerespekteerde sportafrigters soos Jan Loubser, Petrie Stofberg, Louise Stockigt, Pieter Rossouw en Francois Horn te kon saamwerk – almal by wie ek baie geleer het.”
Avonture
Met sy aftrede sien Muller uit na groot avonture – waarvan die eerste ’n toer na die Nasionale Krugerwildtuin.
Maar vir nou geniet hy die rustigheid van aftrede, maar tog voel dit nog onwerklik.
“Dit voel soos nou die dag wat ek in 1989 my eerste tree oor die drumpel van die voorportaal gegee het. Waar het die tyd dan heengegaan?
“Vir nou gaan ek vir solank as moontlik so min as moontlik doen. Dit voel nog soos vakansie, en die werklikheid sal seker nog moet inskop.”
Muller is dankbaar vir al die kinders, ouers en onderwysers wat sy pad oor die dekades gekruis het.
“Ons is almal reisigers in die lewe en ons kon ’n verskil maak in mekaar se lewens en dié van die kinders.”
Op sy laaste dag by die skool is hy verras toe die skoolpawiljoen na hom vernoem is.
In sy laaste voorwoord in die skool-nuusbrief skryf hy: “Daar is darem vir my niks lekkerder as lees nie. Ek is maar nog een van die ‘ou garde’ wat hou van ’n boek in my hand. Elke mens se lewe kan eintlik ’n storie vir ’n boek wees. Elkeen het iets om te vertel en te deel met ander. Ons kan uit mekaar se stories leer.”





