Drie mans is die afgelope week in Goodwood in hegtenis geneem nadat hulle glo in besit van ‘n gesteelde voertuig betrap is.
Die verdagtes is tussen die ouderdomme van 25 en 36. Hulle is Donderdagaand in Voortrekkerweg aangekeer en verskyn Maandag in die Goodwood-landdroshof.
Die Wes-Kaapse blitspatrollie was op die toneel.
Kol. Shawn van Wyk, Goodwood-polisiestasie se bevelvoerder, het die arrestasie bevestig.
Die drie word aangekla vir die besit van vermoedelik gesteelde eiendom, sê Van Wyk.
Goodwood Armed Patrol (GAP) het ook gehelp.
Luidens ‘n inskrywing op hul sosiale-mediablad was die voertuig, ‘n grys Mercedes Benz, op 25 Januarie in Parow gekaap.
Hul span het inligting ontvang dat die voertuig Donderdagaand in Parow gewaar is, en dat dit in die rigting van Goodwood op pad was. Een van hul beamptes, Jaco Visser, het die voertuig opgemerk en die polisie in kennis gestel.
GAP se beamptes het die voertuig gemonitor totdat die polisie by die toneel opgedaag het, en die verdagtes in hegtenis geneem het.
Abdallah Sydney, voorsitter van die Goodwood-gemeenskapspolisieringforum, sê hulle dra kennis oor die voorval. Hy het GAP se beamptes vir hul werk geprys.





