Die beskadigde heining net langs die brug in Skoolstraat en uitgetrapte voetpaadjie op die stuk grond tussen die rivier en Jan Kriel-skool se terrein.


Pogings om die Stad so ver te kry om ’n stukkende heining te laat regmaak wat bydra tot ’n veiligheidsrisiko vir leerders en inwoners op die perseel van die Jan Kriel-skool, sloer al sewe maande.

Ds. André van Wyk, direkteur van die Jan Kriel-instituut (JKI), ’n ondersteuningsnetwerk wat gemoeid is met die bestuur van die skool se bates, sê die veiligheid van die kinders en inwoners op die skool se perseel is vir die instituut “ ’n baie belangrike saak”.

’n Grensmuur van Jan Kriel se perseel loop parallel met die oewer van die Bottelary-rivier tussen Skoolstraat en Amandelweg. Die draadheining wat die “ingange” aan weerskante van die strook grond langs die rivier (wat onder die Stad se bestuur val) eens versper het, is sodanig beskadig dat dit maklike toegang te voet bewerkstellig.

Van Wyk het die subraad op 1 Junie verlede jaar genader nadat verskeie voorvalle van diefstal en saakbeskadiging op Jan Kriel se perseel voorgekom het. Toegang is klaarblyklik van die rivier se kant af, en oor die grensmuur – vibracrete met hakiesdraad bo-op (wat plek-plek in die proses beskadig is) – verkry.

Van Wyk sê die gedeelte langs die rivier bied nie net ’n maklike roete vir misdadigers nie, maar het ook ’n woonplek vir haweloses en ander geword. Hy sê hulle is veral bekommerd oor die veiligheid van koshuisbewoners, van wie sommige fisiek gestremd is. Van Wyk sê van die leerders en ander inwoners op die perseel word soms aan onbetaamlike gedrag of naaktheid blootgestel. Die plakkers maak ook vuur, wat ’n brandgevaar skep.

Op 25 Junie verlede jaar het Van Wyk saam met Willem Rossouw, voorsitter van die JKI se raad, en Gerrit Odendaal, skoolhoof, met amptenare van subraad 21, asook ’n verteenwoordiger van die Stad se water-en-sanitasie-departement, wat aanlyn ingeskakel het, vergader.

Van Wyk sê op die vergadering is gesê die skoonmaak van die gedeelte langs die rivier word vir die boekjaar wat op 1 Julie 2021 sou begin, beplan en ’n tender sou die koste vir die herstel van die heining bepaal.

In September het Odendaal ’n navraag aan Lorraine Frost, subraadbestuurder, en Desiree Visagie, die vorige raadslid van Wyk 11, oor die stand van sake gerig. Hy het twee weke later nog nie ’n antwoord ontvang nie en weer navraag gedoen..

Die antwoord was dat op terugvoer van die lyn-departement gewag word. 

Amper twee maande later – op 15 November, kort nadat daar weer inbrake was en die grensmuur beskadig is “deur plakkers wat hul besittings op die terrein wou stoor’’ – het Van Wyk sy frustrasie in e-pos aan verskeie subraad-verteenwoordigers te kenne gegee oor die gebrek aan die Stad se terugvoer. 

“Ons het net dieselfde antwoord gekry – dat die betrokke lyn-departement moet antwoord gee,” sê hy.

Van Wyk het toe verneem dat daar nie toegang verkry kon word tot ’n termyntender om die heining reg te maak nie, maar dat die saak verder gevoer sou word. Middel Januarie het hy weer navraag gedoen. Twee weke later, met nog geen heining in sig nie en radeloos oor die (gebrek aan) spoed van die burokrasie, het Van Wyk TygerBurger gekontak.

’n Navraag is aan die Stad gestuur waar in onder meer gevra is of dit ’n moontlikheid sou wees vir die JKI om self die stuk heining van sowat vyf meter (ten minste aan Skoolstraat se kant) te (laat) regmaak. 

Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid vir water en afval, sê die CSRM, ’n onderafdeling van die Stad se water-en-afval-direktoraat gemoeid met wateropvanggebiede, stormwater en riviere, onderneem het om te kyk of hulle die skool kan help met die kwessies wat (op die vergadering verlede jaar) uitgelig is.

Die CSRM is hoofsaaklik by die instandhouding en opgradering van riviere en oewers betrokke. Dit sluit skoonmaak, sny van gras en riete, verwydering van rommel, strukturele rehabilitasie en verbeterings van riviere in. Dié afdeling se tenders maak egter nie voorsiening vir die herstel of oprig van heinings nie, sê Badroodien.

“Die Stad is bereid om in samewerking met die private sektor of nie-regeringsorganisasies sekere projekte te onderneem, maar dit is aan keuring onderworpe en sal ’n memorandum van ooreenkoms verg.” 

Badroodien sê daar word beplan om binnekort met die skoonmaak van gedeeltes langs die Bottelaryrivier te begin waar die riete gesny moet word.

Die riete kan slegs van Januarie tot Junie gesny word ingevolge omgewingsregulasies wat bepaal dat die oorheersende broeiseisoen van voëls nie versteur mag word nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article