Beleef Franse glans — ‘n aand van glinster, prag en praal — vir een aand by die Hoërskool Durbanville (HSD), en dit boonop ten bate van die skool se Durbiebond.
Tafels is nou beskikbaar vir ’n kosfees, wat op Woensdag 23 September deur die HSD Durbiebond en die Durbanville-Sakekamer aangebied word.

Dié gastronomie-spoggeleentheid het ten doel om kosliefhebbers te bederf met uitsonderlike kookkuns deur 10 van die omgewing se voorste restaurante.
Dié restaurante wat sal sorg dat hul uitsonderlike kookkuns die aand se grootste trekpleister is, sluit in: Ash, Chocolat Bistro, Evert Opstal, Groot Phesantekraal, Hussar Grill Durbanville, die International Hotel School, The Olive Bistro, The Salt Road, The Farm Eatery en Wilde Vy Bistro.
Kulinêre kunste
Gastronomie word onderskryf deur die Chaîne des Rôtisseurs, ’n internasionale gastronomiese vereniging wat in meer as 75 lande gevestig is. Dit bring byna 21 000 lede byeen wat ’n passie deel vir voortreflike eetgewoontes, die bevordering van die kulinêre kunste, en die genot van ‘n tafel met vriende deel.

“Die geleentheid gaan oor veel meer as wat op jou bord gaan wees. Die skoolsaal sal omtower word in ‘n ruimte wat die prag van die Arc de Triomphe en die goue gloed van die Champs-Elysées teen sonsonder oproep. Die tafelversierings en dragkode sal ook die Franse atmosfeer van glans, glinster, prag en praal weerspieël,” beloof Mimi Finestone, organiseerder.
Unieke styl
Elke deelnemende restaurant sal ‘n spesiale viergangmaaltyd vir 20 gaste voorberei, geïnspireer deur hul unieke styl en die aand se tema, terwyl wyne uit die sjefs se gunsteling-kelders hul kulinêre aanbiedinge sal aanvul.

Die gala-aand se opbrengs is ten bate van die Durbiebond, met Durbanville-Sakekamer as geleentheidsvennoot. Geld wat deur die Durbiebond ingesamel word, sal strategies aangewend word om waarde vir sy skole, leerders en gemeenskap te skep.
Uitbreiding van netwerk
Die Durbiebond is in September 2021 gestig om ‘n grondslag te lê vir die uitbreiding van ‘n netwerk van oudleerders, ouers, ondersteuners en vriende van HSD.
“Die Durbiebond dra daartoe by deur tradisies lewend te hou en die skool as ’n opvoedkundige instelling van uitnemendheid te bevorder. Die skool vier aanstaande jaar sy 200-jarige bestaan,” sê Finestone.
“Die Durbanville-Sakekamer is sedert sy stigting in 1942 deel van die dorp se sakelandskap. Dit ondersteun plaaslike ondernemings deur netwerkgeleenthede te skep waar lede verhoudings kan versterk en samewerking bevorder.
“Die Durbanville-Sakekamer is ook ‘n aktiewe voorstander van ‘n gesonde, positiewe kultuur met die doel om ‘n sterker, meer dinamiese dorp daar te stel,” sê sy.
Kaartjies kos R15 000 per tafel van 10 gaste. Die drag is Paryse sjiek en Franse joie de vivre – dink kleurvol, elegant met ‘n tikkie uitspattigheid.
- Kontak Mimi Finestone van Interface by Goji by 084 583 3144 of mimi@gojipr.net) om te bespreek of vir meer inligting.
LEES OOK: Elegante ‘pienk aand’ gaan monde laat water en Durbanville-gemeenskap baat






You must be logged in to post a comment.