Die NG kerk Kuilsrivier-Suid het op Saterdag 10 Junie ’n omgeetafel-geleentheid as deel van hul Winterhoopprojek aangebied.
Sowat 220 gaste, hoofsaaklik plaaswerkers en hul gesinne, asook ’n paar haweloses uit die gemeenskap, kon aan die langtafels aansit vir ’n heerlike driegangete.
Gemeentelede het al ’n paar ure voor die geselligheid bymekaar gekom om onder meer potjiekos te maak en alles reg te kry. Dit was ’n spanpoging soos min met vele hande wat gehelp het om die gaste te bedien en tuis te laat voel.
AO Mervyn Lamberts, bevelvoerder van die Kuilsrivier-polisie se Sektor 4 (waaronder verskeie plase val) het die reëlings getref vir vervoer om die gaste van die plase na die kerk te bring. Lamberts, wat eens self ’n plaaskind in die omgewing was, het ook ’n paar woorde van inspirasie en raad met die gaste gedeel.
Henriette Novella, verhoudingsbestuurder van die gemeente, sê hul Winterhoop-projek is ’n omgeeprojek waarmee hulle hoop na die gemeenskap wil bring.
Saterdag se geleentheid is afgesluit met gemeentelede wat tussen die tafels inbeweeg het om ’n rooi kombers om elke gas se skouers te vou met ’n stewige drukkie daarmee saam. Daar is ook gebreide musse uitgedeel.





