Dit was so amper of hy het nooit ‘n skrywer geword nie; dit was regtig so hittete!
Só sê die skrywer Willem Fransman Junior, wat onlangs sy splinternuwe boek, Dit was so hittete!, bekendgestel het.
“Dit is vandag vir my ‘n trotse oomblik om by hierdie boekbekendstelling van een van my oudleerders teenwoordig te wees,” sê Timothy Davids, oud-Afrikaansonderwyser van die skrywer.
Fransman Junior was merkbaar aangedaan. Hy was onder die talle mense wat die bekendstelling by die Belhar-biblioteek bygewoon het.
Die bundel is saamgestel uit Fransman se dinkstukke en artikels, wat van 2017 tot 2023 as Netwerk24 se Stemme-rubriek, asook in Media24-koerante, verskyn het.
Titel van boek
Die titel van die boek is gekies omdat Fransman vir bykans 44 jaar as natuurwetenskaplike gewerk het, wat wêrelde verskil het van dié van ‘n kreatiewe skrywer. Dit was so “hittete” of hy het nooit geskryf nie.
Fransman se dogter, Annette Matthee, het as seremoniemeester opgetree en op die vraag wat volgende van Fransman Junior verwag kan word, het hy as volg geantwoord: “In die geheue van my skootrekenaar baklei my versameling gedigte, my versameling kortverhale en my versameling verhoog- en radiodramas met mekaar oor wie volgende in boekvorm sal verskyn. Ek moet byvoeg dat my radiodramas almal deur RSG uitgesaai is. Saam met die gedrukte drama sal daar ook ‘n klankbaan van dieselfde verhaal by die boek ingesluit word.”
Martie Meiring
Die gevierde rubriekskrywer Martie Retief Meiring skryf in haar voorwoord: “Dis lekker lees, lekker onthou – soms ook met hartseer. Onthou, die taal is soms verleidelik, vlot en vars. Dis mos immers ‘n woordkunstenaar wat hier aan die werk is.” Hierdie was van die laaste werk wat Meiring gedoen het voor haar afsterwe in 2024.
. Die boek word teen R250 verkoop. Belangstellendes kan Fransman Junior by 082 729 6684 bel om bestellings te plaas.




