Lede van die Vriende van die Mag, ’n organisasie sonder winsbejag, is hier saam met kerklui en gaste van die Volkskerk van Afrika in Eersterivier, waar die dankseggingsdiens Sondag 19 Maart gehou is.


Die nie-regeringsorganisasie Vriende van die Mag (Fofa) het Sondag 19 Maart sy tiende bestaansjaar met ’n dankseggingsdiens in die Volkskerk van Afrika in Pine Place in Eersterivier gevier.

Die diens is gelei deur ds. Lodewyk Allies, voormalige leerder en onderwyser van die Hoërskool John Ramsay in Bishop Lavis.

Sy preek het gehandel oor die omstanders by die kruisiging van Jesus uit Lukas 23: 23 tot 46, wat saamval met die lydingstyd in die aanloop tot Paasfees.

Fofa is gebou op sewe pilare met die uitsluitlike doel om uit te reik in jou gemeenskap en ’n verskil te maak. Die sewe pilare is godsdiens, welsyn, kommunikasie, sosiaal, opleiding, apolities en standaarde.

Geen jaargelde word gevra nie en elke veteraan van die weermag, lugmag, geneeskundige dienste of vloot kan by die organisasie aansluit.

Veterane

Volgens Abe Bengell, een van die stigterslede en aan die bestuur van die godsdienspilaar, help Fofa veterane om op die departement van militere veterane se nasionale basis te registreer.

“As enige veterane die behoefte het om by Fofa aan te sluit, kan hulle kies by watter pilaar hulle wil aansluit en ons bel. Ons sal jou besoek en verduidelik wat ons alles doen en jou dan help met enigiets wat jy nie verstaan nie.

“Soos genoem, ons vra nie geld nie. Al wat ons van die nuwe lid verwag is om in sy gemeenskap uit te reik en ’n verskil te maak. Ons almal ken die omstandighede van die mense in jou gemeenskap, veral ná die Covid-19-pandemie, en baie sukkel om weer op hul voete te kom. As jy kan help met ’n sopkombuis of met kospakkies om jou gemeenskap te dien, maak jy ’n verskil in jou gemeenskap en reik jy na hulle uit,” se Bengell.

Fofa verwag slegs dat elke lid wat aansluit, bereid sal wees om onbaatsugtig uit te reik na ander en dan ook ’n wesenlike verskil te maak in ander se lewens.

Rig navrae aan Abe Bengell by 073 151 1479.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article