Fluit-fluit, my storie is ná 38 jaar uit!: Hoërskool Brackenfell se Braam Mouton tree af

Braam Mouton

Credit: SYSTEM

Ná ’n loopbaan van 38 jaar in die onderwys – waarvan 34 jaar by die Hoërskool Brackenfell – tree Braam Mouton einde vanjaar af.

Mouton het in 1989 by dié skool begin klas gee met geografie as sy hoofvak.

Hy is in 2001 aangestel as departementshoof van dié vakgebied.

Hy het ook onderrig gegee in sosiale wetenskap, liggaamlike opvoeding, Bybelonderrig en toerisme.

“Maar geografie was al die jare my passie. Daar is niks lekkerder as om met kinders te werk wat respekvol en gemotiveerd is nie – dis ’n voorreg in die lewe,” sê Mouton, wat vandag afskeid neem van die skool wat sy loopbaan gevorm het.

Hy is in Ceres gebore en het in 1977 aan die Hoërskool Charlie Hofmeyr gematrikuleer.

Ná sy twee jaar weermagdiens by die Pantserskool in Bloemfontein, het hy sy BA (LO) aan die Universiteit Stellenbosch en later ook ’n B.ED voltooi. In 1984 begin hy skoolgee by die Middelbare Skool Klawer.

Dit was juis sy liefde vir die vakgebied en begeerte om sy kennis daarvan met kinders te deel wat hom genoop het om ’n onderwyser te word.

“Ek weet nie of daar ’n beroep is wat vir jou meer genot sal gee as om met kinders te werk nie.

“Dit is ongelooflik om te sien hoe kinders ontwikkel van jong tieners tot pragtige jong volwassenes. Dit was ’n voorreg om deel te wees van hierdie fase van so baie kinders in my 39 jaar as onderwyser,” sê hy.

Elke dag in sy geliefde geografieklas, sê hy, was vir hom ’n hoogtepunt en die Brackenfell-skoolgemeenskap lê hom baie ná aan die hart.

“Dit was so lekker om met so baie betrokke ouers saam te werk. Brackenfell is en sal altyd deel van my lewe wees, want dit is waar ek die grootste deel van my lewe deurgebring het en waar my eie kinders grootgeword het.”

Buiten die akademie het Mouton ook ’n liefde vir sport en was hy die gholf- organiseerder by die skool vanaf 1995.

Hy het ook atletiek afgerig vir 39 jaar en rugby vir 28 jaar.

Vir sy aftrede sien hy uit na ander avonture.

“Ek sien baie uit na my aftrede veral omdat my vrou saam met my aftree. Ons is altwee baie lief vir die natuur, so kamp en om plekke te verken in die land waar ons nog nie was nie, is op die agenda.

“Ek sal graag ook so ’n bietjie meer aan my gholf-voorgee wil werk.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article