Florida-vaardigheidskool in Ruyterwacht se skoolhoof wen ’n gesogte prys

Die dinamiese span ondersteunende onderwysers wat gehalte-onderrig verseker terwyl hulle pret het.


Die Florida-vaardigheidskool in Ruyterwacht se skoolhoof, Taswald Andrews, is as die provinsiale wenner vir uitnemendheid in spesiale behoeftes in skoolleierskap aangewys.

Jackie Kielblock, ’n ouer wie se kind die Florida-vaardigheidskool bywoon, sê die skoolhoof is enig in sy soort. Hy betrek hom by die stout kinders en probeer hulle help; hy oordeel hulle nooit nie. “Die onderwysers is awesome; hulle behandel die kinders soos hul eie,” vertel Kielblock.

Andrews sê die grootste dryfveer in die spesiale-onderwyssektor is die uniekheid en die potensiaal van elke leerder by die skool. “Dit motiveer my elke dag om te veg vir die aanvaarding van ons leerders in die samelewing. Ons leerders leer anders, maar speel so ’n groot rol in die beroepsgerigte mark en my visie is om te verseker dat ons leerders daardie regverdige kans in die lewe gaan kry nadat hulle die vierjaarprogram voltooi het,” sê Andrews.

Die vaardigheidskool volg twee strome: akademies en beroepsgerigte vaardigheid, wat bestaan uit agt werkswinkels soos haarkappery, naaldwerk, stoffering, houtwerk, sweis, gasvryheid, kantoorpraktyk en basiese instandhouding.

Hulle het ook netbal, rugby, skaak en sokker as sportsoorte.

Uitdagings

Andrews meen gemeenskappe het ’n wanpersepsie van leerders van vaardigheidskole, dat sulke leerders nie kan leer nie.

“Ons leerders kan leer; hulle kan eendag ’n bydrae maak as ’n Suid-Afrikaanse burger, asook in die maatskaplike en ekonomiese steurnisse wat soms ’n demper plaas op ons rol as onderwyskundiges. Ons waardeer die ondersteuning van organisasie soos Equilibrium (Elsiesrivier), Stad Kaapstad se metropolisie en maatskaplike ontwikkeling; Ruyterwacht kliniek, die Elsiesrivier-polisie en Wes-Kaapse onderwysdepartement. Ons skoolbeheerliggaam bied ook goeie ondersteuning, wat seker maak dat ons gehalte-onderwys aan ons leerders bied.

Nog ’n uitdaging, merk Andrews op, is die verbetering van hul werkswinkels.

“Ons het baie ondersteuning en benodig hulp van besighede en borgskappe in hierdie verband. Ons ontvang jaarliks geld van die departement, maar dit kan nie die koste dek van die opknap van die werkswinkels nie. Ons wil graag ons leerders blootstel aan die jongste tegnologie, masjiene en toerusting,” verduidelik Andrews.

Hoogtepunte

Andrews skryf van die skool se hoogtepunte toe aan hul sukses in sport. Vier van hul leerders het deurgedring na nasionale vlak in LSEN-atletiek. Die byeenkoms was in Germiston in April.

Nog twee van die atlete het nasionale rekords verbeter.

Faith Jacobs, o.15-atleet, het die rekord in die baanitems verbeter. Sy het ook eerste plekke in die 100m en 200m behaal, asook ’n eerste plek in die o.19-aflositem.

Leeandre Patterson, ’n o.17-atleet, het ook ’n rekord in die 400m verbeter.

Andrews sê hulle blink ook in skaak uit. “Ons het 90% van ons ligaspele teen die ander vaardigheidskole gewen

“Drie van ons opvoeders is ook genomineer in die kategorie vir uitnemendheid in spesiale behoefte-onderrig by die provinsiale onderwystoekenningsgeleentheid.”

Van die grootste veranderinge wat Andrews as skoolhoof moes maak, was ’n bewusmakingsveldtog van die skool in die gemeenskap en die sektor sodat organisasies en die gemeenskap die skool kan ondersteun.

Hy het ook baie fokus op leerders se welstand gelê, met blootstelling en uitstappies sodat leerders kan waardig voel en trots wees op die skool, sê Andrews.

“In ons sektor vanaf die onderwysdepartement kry ons baie ondersteuning en daar het veral groei in die sektor, die aanvraag na gespesialiseerde onderwys – veral in die gemeenskappe wat ons dien (Delft, Bontheuwel, Ravensmead, Elsiesrivier, Khayelitsha, Eersterivier, Belhar, Ruyterwatch, Goodwood en Parow) is baie groot. Ons kan net 60 leerders aanvaar uit die meer as 400 aansoeke per jaar as gevolg van die kapasiteit van ons skool,” sê hy.

Andrews vertel die feit dat vaardigheidskole nie dieselfde aandag geniet as alledaagse hoofstroomskole nie, vir hom ’n groot frustrasie is nie, maar ook vir die omliggende skole wat hoop plaas op die aansoeke wat hulle jaarliks aanstuur.

Sy visie is om die skool se aansien te verbeter en die instansie tot uitmuntendheid te neem.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article