Flashes en fanfare – DTBS beloof vuurwarm atletiek-aksie Saterdag

DTBS 2026

Die gees loop hoog by die hoërskole DF Akademie, Tygerberg, Bellville en Stellenberg op die vooraand van die jaarlikse DTBS-atletiekbyeenkoms (voorheen MTBS) wat op Saterdag 7 Februarie in Groenpunt plaasvind.

Die byeenkoms se naam – ‘n samestelling van die eerste letter van elke skool se naam – staan van vanjaar af bekend as DTBS, tesame met die naamsverandering van die Hoërskool DF Malan wat sedert die begin van 2026 as DF Akademie bekendstaan.

LEES OOK: MTBS word DTBS: Grootste interskole-atletiekbyeenkoms kry nuwe naam

Die Hoërskool Bellville is vanjaar die gasheer en dit word vir die tweede deur STADIO jaar geborg .

Die vier skoolhoofde van die skole wat aan die DTBS deelneem.
Die vier skoolhoofde van die skole wat aan die DTBS deelneem, is Hannes Oosthuizen (DF Akademie), Betta Nel (Tygerberg), Thea McGeer (Bellville) en Yolandé Havinga (Stellenberg). FOTO: Carina Roux

In haar voorwoord sê Thea McGeer, hoof van die Hoërskool Bellville, die geleentheid vier sport as ’n kragtige bousteen van karakter, gemeenskap en hoop.

“Atletiek is meer as net wen of verloor. Dit is ’n toets van uithouvermoë, waar ’n atleet leer om met fokus en selfdissipline elke tree met doelgerigtheid te neem. Dit is ’n viering van krag en tegniek, waar fisieke vermoë en innerlike vasberadenheid hand-aan-hand gaan. Dit is ’n bewys van passie en presisie, waar ’n atleet leer om nie net oor ’n dwarslat te gaan nie, maar ook oor eie twyfel en vrees. En dit is ’n toonbeeld van talent en kreatiwiteit, waar spoed, ritme en moed saamvloei in ’n enkele,
beslissende sprong.

“Maar bo alles is atletiek ook gebaseer op spanwerk – waar elke atleet, al staan hy of sy alleen op die baan, gedra word deur die aanmoediging van spanmaats, afrigters en ouers. Hier leer ons dat ware sukses nie net in medaljes gemeet word nie, maar in groei, respek en deursettingsvermoë,” sê McGeer.

Dr. Stan du Plessis, uitvoerende hoof van STADIO, sê hulle is besonder trots om deel te wees van geleentehede soos DTBS waar jong mense passie, spanwerk en disipline uitleef.

“Aan die leerders van DF Akademie, Bellville, Stellenberg en Tygerberg, vandag sal julle die resultate van julle harde werk en ure van toewyding wys, en dit sal sekerlik ‘n hoogtepunt vir al die toeskouers wees. Die belangrike lesse van spanwerk, dissipline en konsekwentheid sal ‘n bate vir julle toekoms wees. Ons hoop om baie van julle in die komende jare te verwelkom. En aan die families, onderwysers en organiseerders – dankie dat julle in julle kinders en in hierdie helder toekomste belê,” sê Du Plessis.

Flashes

Die dag skop af met die uiters gewilde Flashes in die DHL Stadion om 08:30.

Hiér verdedidig die Stellies hul titel ná verlede jaar se puik vertoning onder die tema “Wanted: Dead or Alive”.

Die hoofdirigente van die hoërskole DF Akademie, Tygerberg, Bellville en Stellenberg.
Die hoofdirigente van die hoërskole DF Akademie, Tygerberg, Bellville en Stellenberg wys op ‘n prettige manier hulle is reg om mekaar die stryd op die pawiljoen aan te sê by die DTBS-atletiekbyeenkoms wat Saterdag in Groenpunt plaasvind. Voor, van links, is Luamé Lombard en Micaél Laubscher (DF), Stefan Marais en Von Wielligh Louw (Bellville). Agter is Aimee Claasens (Tygerberg), Juan Marais (Stellenberg), Caylum Bessick (Tygerberg) en Carli van Wyk (Stellenberg). FOTO: Carina Roux

Die flashes bestaan uit ‘n mengelmoes van liedjies waartydens 627 leerlinge ‘n “menslike LCD-skerm” op die pawiljoen skep. Elke leerling funksioneer soos ‘n individuele piksel en flits met die gebruik van hul skooluniforms prentjies en woorde om ‘n spesifieke tema uit te beeld.

Die onderskeie skole se tema’s is natuurlik die grootste geheim en word eers met die aanvang van hul vertoning bekend gemaak.

Wie gaan vanjaar die Flashes-kroon dra? Kan Stellenberg dit ‘n 14de keer doen? Gaan DF Akademie wat in 2024 laas gewen het, of Bellville, wat dit in 2019 met DF moes deel, die mas opkom? Of is vanjaar die jaar wat Tygerberg die eerste keer koning kraai?

Kaartjies vir die Flashes is beskikbeer by Quicket teen R80 elk.

Atletiek

Ná die Flashes skuif die opwinding na die Groenpunt-atletiekbaan waar Stellenberg hoop om die beker vir die vierde agtereenvolgende jaar te wen.

DF, wat oor die jare die meeste oorwinnings op die atletiekbaan behaal het, het in 2012 laas gewen. Bellville se laaste oorwinning was in 2022 en Tygerberg in 2005.

Die DTBS-atletiekkapteine is, van links, Ryno Higgs, Carla Hattingh (Bellville), Eben Smit, Regan Marais (DF Akademie), Micaela Sterley, Ethan van Biljon (Stellenberg), Jude Bailey en Tamryn Booysen (Tygerberg).
Die DTBS-atletiekkapteine is, van links, Ryno Higgs, Carla Hattingh (Bellville), Eben Smit, Regan Marais (DF Akademie), Micaela Sterley, Ethan van Biljon (Stellenberg), Tamryn Booysen en Jude Bailey (Tygerberg). FOTO: Carina Roux

Altesaam 150 atlete van elke skool neem aan verskeie items deur die loop van die dag deel, insluitend kort- en langafstand baanitems, hekkies, gewigstoot, spiesgooi, verspring, diskus, hoogspring, driesprong en aflos. Punte word aan elk van die agt atlete per item toegeken volgens waar hulle eindig.

Oor die 32 jaar wat die byeenkoms plaasgevind het, het verskeie rekords gespat.

Slegs twee rekords staan nog sedert die byeenkoms in 1994 vir die eerste keer aagebeid is, albei aangeteken deur Tygerberg-leerders:

  • E Le Roux (Tyg) – o.19-meisies 100m, 12.20
  • A van der Merwe (Tyg) – o.19-meisies 100m hekkies (84cm), 14.50

By verlede jaar se byeenkoms is altesaam nege rekords verbeter.

  • E. Smit (DFM) – o.17-seuns 400m hekkies (84cm), 52.63
  • A van der Werf (Stell) – 0.14- seuns 800m, 02:05.09
  • J Nel (Stell) – 0.15-meisies 800m, 02:10.91
  • M Swart (Bell) – o.19-meisies diskus (1kg), 41.60M
  • J van Schalkwyk (DFM) – o.15-meisies 90m hekkies (76.2cm), 13.56
  • A Pienaar (Stell) – o.15-seuns diskus (1kg), 58.52M
  • S Muzinga (Tyg) – o.19-meisies driesprong, 10.73M
  • J George (Bell) – o.15-seuns 1500m, 04:19.68
  • A Salie (Stell) – o17-seuns 400m, 48.62

Geesbeker

Kan DF Akademie dit ses-uit-ses maak?

Die Geesbeker word toegeken aan die skool met die meeste gees langs die veld tydens die atletiekbyeenkoms.

Dit is vir die eerste keer in 2017 aangebied, met die DF-effers wat skoonskip gemaak het in die vyf jare wat dit deel van die byeenkoms was.

Volg TygerBurger op Facebook en Instagram vir meer oor die DTBS-byeenkoms.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article