Die Kaapse Filharmoniese Orkes gaan eersdaags die Kaapse noordelike voorstede met sy klassieke note betower wanneer die orkes by die eerste “Welgemoed in Symphony”-opelugskemerkonsert optree.
“Welgemoed in Symphony” word op Sondag 1 Oktober deur WelgemoedCID, NMI en die Stad Kaapstad aangebied.
Dit vind plaas van 17:00 tot 19:00 by die Bellville-gholfbaan.
Geniet ’n onvergeetlike aand van klassieke en moderne musiek – van Tchaikovsky en Mozart tot John Williams se “Star Wars Overture” – saam met familie en vriende.
Hierdie aand van gesellige samesyn is ten bate van die Kaapse Filharmoniese Jeugorkes en drie plaaslike gemeenskapsorganisasies, die Alta du Toit-sentrum, Magdalena House en Huis Jabes, asook die opknap van openbare ruimtes binne die Welgemoed-stadsverbeteringsdistrik.
Pak jou piekniekmandjie of bestel ’n Joostenberg Bistro-piekniekboks en kom geniet die klanke van die Kaapse Filharmoniese Orkes terwyl die son oor ’n mosaïek van piekniekkomberse sak.
Kaartjies kos R150 vir volwassenes en R75 vir kinders (onder 18 jaar) en pensioenarisse. Familiepakkette is ook beskikbaar teen R350 (twee volwassenes en twee kinders). Bespreek by Quicket.





