Die Goodwood-gevangenis se Mountain View-fietsryklub gaan in samewerking met die Downsindroom-vereniging van die Wes-Kaap vir vyf dae die pad van Kaapstad na George op hul fietse aandurf om bewusmaking te skep.
Altesame 12 lede gaan die toer meemaak en is hoofsaaklik korrektiewe beamptes.
Die fietstoer sal op 27 Februarie begin in Parow. Die eerste stop is in Gordonsbaai wees, die tweede stop in Grabouw, daarna in Caledon. Die span sal in Bredasdorp oornag. Op die tweede dag sal daar tot op Riviersonderend gery word, met ’n stop op Swellendam (Buffeljags).
Dag drie, vier en vyf
Op die derde dag vertrek hulle vanaf Swellendam en die eerste stop sal in Heidelberg wees en dan in Riversdal.
Op die vierde dag vertrek die span van Riversdal na Albertinia, en stop op Mosselbaai
Die laaste dag sal van Mosselbaai na George wees.
‘Jonk van Gees’
Die ouderdom van mense in hierdie span is van 40 tot 57 jaar.
“Ons is ’n outoppie-klub, maar jonk van gees,” sê Harold Wentzel, voorsitter van die Mountain View-fietsryklub.
Patrick Darlow, toer-organiseerder, sê Wentzel is die afgelope dekade die voorsitter van die klub en hy is ook die enigste lid van die klub wat aan al 20 toere ten bate van downsindroom deelgeneem het.
Vanjaar sal dit sy 21ste toer wees ten bate van die Downsindroom-vereniging.
Die Downsindroom-vereniging Wes Kaap (DSVWK) help mense wat direk geraak word deur downsindroom (families, versorgers, onderwysers) om deur die aanvanklike skok te werk en die pad na aanvaarding te stap, verduidelik Tineke Ganz-Malan van die vereniging.
“Dit is ook belangrik om dadelik te begin ‘werk’ met jou baba sodat hy of sy gehelp word om te ontwikkel. Ons wil ouers help sodat hulle hul kinders kan help om hul volle potensiaal te bereik. Ons families en mense met downsindroom is egter deel van ’n gemeenskap en moet ook eendag hul plek in die gemeenskap kan vol staan,” sê Ganz-Malan.
Bewusmaking
“Ons het dus ook nodig om mense wat niks van downsindroom weet nie, bewus te maak van wat downsindroom is, watter potensiaal in ons kinders en mense opgesluit lê, wat hulle kan doen om ouers en ander te help, hoe ’n mens iemand met downsindroom aanspreek en wat jy kan sê en wat nie. Watter taal ons gebruik, want woorde het waarde,” verduidelik Ganz-Malan.
“Op die toer kry die vereniging die geleentheid om ons boodskap wyd uit te dra.”
Esther Adams-Bruitjies en Tineke Ganz-Malan van DSVWK toer saam met die fietsryers (in ’n tweede voertuig) en doen aan by skole en ander instansies, waar hulle dan die geleentheid kry om met die skoolkinders te praat oor downsindroom.
Ganz-Malan sê saam met hulle is Jody Adams, ’n 30-jarige man met downsindroom. Hy sing by van die skole en wys so vir die kinders dat mense met downsindroom maar net mense is met ideale en drome en talente soos gewone mense.
Die klub kort nog baie geld, sê Elana Visser, fondsinsamelaar vir die fietstoer.
“Ons kort R20 000 om hierdie toer ’n sukses te maak,” voeg sy by.
- kontantskenkings;
- water of koeldrank;
- sonskerm;
- lipsalf;
- goed vir hul goody bags;
- petrol.
- Bel Elana Visser by 061 060 5566 om te help.





