Konsternasie het in Ferndale uitgebreek toe straatname oornag met die haal van ‘n kwas verander het.
Met die onlangse oorverf van straatname het kontrakteurs van die Stad Kaapstad ses straatname verkeerd op die buurt se randstene geverf.
“Ons vra al vir jare dat die verbleikte straatname oorgeverf word en was verheug toe die kontrakteurs opdaag. Maar groot was ons verbasing toe ons die volgende oggend wakker word en ons nuwe straatname sien,” sê ‘n inwoner, Alet van Rooyen. Maar nog meer frustrerend, sê sy, is dat belastingbetalers nou dubbel moet opdok om dit reg te maak.
Loubserstraat is nou Lobserstaat, en Fennelsingel is nou Fennelstraat. Ook Kinkelstraat het verander na Kinkelweg, en die een kant van Eben Olivier is nou John Gainsfordstreet. Ook Ferndalestraat het verander na Ferndale-rylaan en die bekende Frans Conradie-rylaan is nou Frans Conradiestraat.
By navraag het Rob Quintas, die Stad se burgemeesterskomiteelid vir stedelike vervoer, gesê die Stad is bewus van die foute wat met die straatname gemaak is.
“Ons het vroeër vandeesweek ‘n dringende vergadering met die kontrakteur belê, en hy is versoek om die foute onmiddellik reg te stel,” sê hy.
“Ons het ‘n paar uitdagings met ‘n nuwe kontrakteur ondervind en vra om verskoning vir enige ongerief. Ons padinfrastruktuurbestuurspan sal die werk noukeurig monitor en gehaltebeheer verbeter.”





