’n Familie van Belhar voel hul geliefde kon nog gelewe het as die brandweerstasie in Belhar se personeel net op hul noodoproep gereageer het.
Yasmiena Frank (62) het verlede Donderdag beswyk nadat sy met asemhalingsprobleme gesukkel het.
Volgens Riedewaan van Niekerk, ’n neef van die oorledene, het hy net ná 07:00 ’n oproep ontvang dat die nie goed gaan met sy tannie nie.
“Ek was in Panorama toe my familie my bel. Hulle sê toe hulle het reeds die ambulans ontbied, maar dit vat te lank om uit te kom. My tannie woon baie naby aan die brandweerstasie en ons redeneer toe as hulle haar net met suurstof kan help tot die ambulans kom, sal sy oukei wees,” sê Van Niekerk.
Van Niekerk sê die antwoord wat hy ontvang het, het hom geskok.
“Die persoon wat die foon geantwoord het, sê toe daar is nie voertuie om uit te kom nie. Ek het selfs gevra of ons nie my tannie tot by die brandweer kon bring nie, maar dit was ook nie aanvaarbaar nie. Ons wens net hulle kon ons help; dalk het sy dan nog gelewe,” sê Van Niekerk.
Die Stad Kaapstad, onder wie die brandweer val, het by monde van hul woordvoerder, Vennessa Scholtz, gesê hulle sal ’n ondersoek na die voorval van stapel stuur omdat die bewerings in ’n ernstige lig beskou word.





