Die familie van Shane Human (33) wat Saterdagaand na bewering deur sy buurman in Brackenfell doodgesteek is, glo vas dat hy nog sou lewe as die polisie hom beskerm het toe hy om hulp gevra het.
Volgens die familiewoordvoerder en suster van die oorledene Robyn Berry was dié aanval nie ’n geïsoleerde geval nie.
“Shane is verlede jaar Desember deur dieselfde man met ’n mes aangeval. Hy het ’n saak by die Brackenfell-polisie aanhangig gemaak, maar ons weet nie wat die uitkoms daarvan was nie. Sedertdien het die man hom ’n paar keer afgedreig. Die polisie het vir hom ’n nommer gegee om te skakel sou hy weer dreigemente ontvang,” het Berry Maandag aan TygerBurger gesê.
Die WhatsApp boodskap wat Human op 23 April aan die polisie- speurder gestuur het en wat in TygerBurger se besit is, lees as volg: “Moresê Mnr, Dit dit is Mnr Shane Human hier. Ek laat net weet die ou wat my gesteek het, het my gisteraand weer gedreig.”
Op die Vrydagaand voor sy dood het hy weer ’n boodskap aan die polisie gestuur wat lees: “More Mnr hy was alweer aan die gang . . . in die pad . . . ” Die boodskap is deur TygerBurger verkort.
Volgens haar het die polisie nooit op dié boodskappe gereageer nie.
“Die regstelsel het hom in die steek gelaat. As die polisie die nodige voorsorgmaatreëls geneem het om my broer te beskerm, glo ons nie as ’n familie dat dit sou gebeur het nie,” sê sy.
Human het onlangs ’n graad in die onderwys aan die Universiteit van Kaapstad behaal. Ten tye van sy dood was Human ’n onderwyser by die Bishop School of Skills in Bishop Lavis.
Die voorval het omstreeks 23:00 in Protea Village, Brackenfell, plaasgevind. Volgens ’n betroubare bron was daar vroeër die aand ’n woordewisseling tussen die twee mans.
Plaaslike paramedici het om 22:45 verskeie boodskappe op ’n buurtwag-groep, sowel as oproepe ontvang oor ’n struweling by die woning in Shirazstraat.
“Op pad na die huis het noodoproepe bly inkom. Met ons aankoms was daar chaos in die straat waar mense op en af gehardloop en geskreeu het. Ons is in kennis gestel dat ’n man in die bors gesteek is. Paramedici het hom te hulp gesnel waar hy in sy oprit inmekaar gesak het, maar hy het op die toneel aan ’n wond in sy linkerbors beswyk,” sê Kobus Kotze, woordvoerder en paramedikus by Titanium Securitas.
Volgens ’n bron het die aanval voor die aanvaller se motorhuisdeur plaasgevind.
“Daar word vermoed dat die oorledene huis toe probeer hardloop het ná die aanval,” sê Kotze.
Die polisie het minute later by die toneel opgedaag, waar die 33-jarige verdagte in hegtenis geneem is op aanklag van moord. Hy is by die Brackenfell-polisiekantoor aangehou tot sy hofverskyning wat more in die Bluedowns-landdroshof sal plaasvind. Die familie het versoek dat borgtog teengestaan word.
Die polisie se provinsiale mediakantoor het nog nie kommentaar gelewer op die familie se bewerings nie.





