Die literêre nalatenskap van die ikoniese skrywer Eugène Nielen Marais is die afgelope week deur die FAK op ‘n geskikte wyse gehuldig met die vertoning van die rolprent Die Wonderwerker, voorafgegaan deur ‘n praatjie deur die filmmaker Katinka Heyns.
Lede van die FAK en ander belangstellendes het die Saterdagaand-vertoning by die Othello-afree-oord in Brackenfell bygewoon.
Op 23 Junie, 120 jaar gelede, het Marais sy gedig “Winternag” gepubliseer in sy koerant Land en Volk. Twee jaar later in 1907 vertrek Marais na die Waterberge, waar hy ‘n geruime tyd vertoef en die gedrag van diere ondersoek. Die aangrypende rolprent wat in 2012 uitgereik is, handel oor dié periode in Marais se lewe en slaag fantasties daarin om sy enigmatiese karakter vas te vang.
“Die gedig ‘Winternag’ word beskou as die eerste letterkundige betekenisvolle gedig in Afrikaans. Dit verskyn in ‘n tyd toe die tweede Afrikaanse taalbeweging ná die Anglo-Boereoorlog momentum begin kry. Daar is ook na 23 Junie 1905 verwys as die mondstuk van Afrikaanse poësie,” sê Elizma Smith, kultuurorganiseerder van die FAK. “Dit was genoeg rede om die gedig vanjaar, met Afrikaans in sy 100ste jaar as taal, te herdenk.”
Toekennings
Heyns, ook regisseur van die rolprent, het vertel sy was in trane toe sy die eerste keer die draaiboek gelees het, geskryf deur haar man, die skrywer Chris Barnard.
“Chris was begeesterd met Marais se verhaal. Met die storie kyk ons deur `n sleutelgat na dié grepie uit Marais se lewe en ervaar hom as die argetipiese gewonde heler.”
Die prent speel af in die tydperk toe Marais aan malaria gely het en deur die Van Rooyen-gesin versorg is. Die jaar is 1908 en Marais, ernstig siek, hou stil op die plaas Rietfontein vir water. Gys en Maria van Rooyen sien hoe siek hy is en neem hom in om te herstel. Maar malaria is nie sy enigste stryd nie.
Sedert die dood van sy vrou, Lettie, 14 jaar tevore tydens die geboorte van hul enigste kind, het Marais begin morfien gebruik – `n gewoonte wat later in `n verslawing ontaard het.
Maria en hul 19-jarige aangenome dogter, Jane Brayshaw, raak albei verlief of die 40-jarige Marais wat ook gevoelens vir Brayshaw ontwikkel.
Maria vind mettertyd uit van sy verslawing en poog om hom te help, maar ook te beheer. Wat volg, is `n broeiende liefdesdriehoek.
By die Silwerskermfees in 2012 is Die Wonderwerker met ses toekennings bekroon: beste film; beste regisseur – Katinka Heyns; beste draaiboek – Chris Barnard; beste redigering – Ronelle Loots; beste aktrise – Elize Cawood en beste ondersteunende vroulike rol – Sandra Kotzé.





