Sandsakke sou na verwagting vandag (Maandagmiddag 14 Oktober) na inwoners in Van Zylstraat, Belrail aangery word om te keer dat rioolwater hul huise binnestroom. Die gebied word al sedert verlede week deur rioolwater oorstroom.
Een so ‘n inwoner, Jeanne Christians, wat by Van Zylstraat 9 woon, vertel aan TygerBurger dat die rioolwater reeds die tuinwoonstel in haar agtererf binnegestroom het.
“Die rioolwater het al my dogter se woonstel agter op die erf binnegestroom en haar matte het reeds skade opgedoen,” sê sy.
Die oorstromings duur al sedert verlede Dinsdag 8 Oktober voort nadat ’n ondergrondse rioolpyp in die omgewing glo ineengestort het.
“Daar is reeds spanne wat op die brug in Tienie Meyer-verbypad besig is om ondergronds aan die ineengestorte rioolpyp te werk.”
Sy voeg by dat tenkwaens oor die naweek ingespan is om die rioolwater op te suig om te verhoed dat hul huise oorstroom word. Maar, die ingryping is van korte duur.
“Hulle was gister (Sondag) twee keer hier om water op te suig. Hulle was vroeër vandag (Maandag) weer hier om die water op te suig, maar sodra hulle om die draai wegry, stoot die water net weer op.”
’n WhatsApp-groep genaamd Belrail COCT Complains getuig van tientalle inwoners se moedelose woede nadat hulle byna ’n week lank wag om verligting van die vrot rioolwater te kry.
Talle huise word steeds deur die oorstromings geaffekteer nadat hulle die naweek omgewag het vir die Stad Kaapstad se onmiddellike ingryping om van die vrot water in hul erwe ontslae te raak.
By sommige huise in Drommedarisstraat is die toilette oorstroom. Hierdie inwoners kla dat hul toilette al dae lank nie gespoel kan word nie.
Dringende navrae is op Vrydag 11 Oktober aan die Stad se departement van water en sanitasie gerig. Ná verdere navrae Maandagoggend en -middag, is nog geen terugvoer ontvang nie.





