Sers. Graham Swanson van die Parow-polisie se speurtak agter sy lessenaar.

‘n Lid van die Parow-polisie se speurtak sê hy is verheug oor die straf wat onlangs aan ‘n moordbeskuldigde opgelê is, en dat dit afsluiting aan hom, sowel as die naasbestaandes van die moordslagoffers bied.

Die moordbeskuldigde, Reagan Fenner (35), is gesamentlik 65 jaar tronkstraf opgelê vir albei die moorde en huisroof.

Die lyke van die afgetrede egpaar, twee seniors Betsy Senekal (76) en haar man Pieter (72), is op Maandag 20 November 2023 by hul huis in Markstraat, Parow-Vallei gevind nadat bure onraad vermoed het.

“Ek was op bystand en is ingelig oor die moontlike toneel waarna ons ondersoek gaan instel het. Daar gekom was die huis se hekke en deure toegesluit. Ons het deur een van die vensters geloer en iemand op die bed sien lê. Ons het die brandweerdienste laat uitkom om die hekke en die deur oop te maak.”

Die polisie het daarna die huis binnegegaan.

“Daar het ons op die lyk van ‘n man in een kamer afgekom wat in ‘n plas bloed gelê het. In die tweede kamer het ons op die vrou afgekom wat kopbesering opgedoen het. Sy is vermoedelik in die gesig met ‘n voorwerp geslaan,” sê Swanson.

Albei is op die toneel dood verklaar.

Toegang deur plafon

Die polisie kon geen gedwonge toegang opspoor nie, behalwe ‘n gat in die plafon buitekant die huis. Hulle vermoed dit is hoe die moordenaar toegang tot die huis bekom het.

Swanson het navrae gedoen en ook kringtelevisie van ‘n nabygeleë winkel nagegaan en kon met behulp daarvan ‘n verdagte opspoor. ‘n Tweede verdagte is geïdentifiseer en in Delft aangekeer.

“Die egpaar was basies elke dag by die winkel, en hulle was bekend in Markstraat,” sê Swanson.

Hy sê tydens die opvolg-ondersoek het een van die verdagtes die polisie gaan wys waar die gesteelde eiendom van die senior egpaar, gesteelde TV-stel en selfs kruideniersware versteek was. Die goedere is onder ‘n houtvloer van ‘n huis gekry.

Volgens die polisie woon albei verdagtes, wat bevriend is met mekaar, in die gebied. Die polisie sê ook dat die verdagtes dwelms gebruik het en dat hulle vorige veroordelings het. Die saak is kort nadat die ondersoek byna afgehandel is na die provinsiale speurtak oorgeplaas.

Pleitooreenkoms

Fenner, die tweede verdagte in die moordondersoek wat 65 jaar lank tronkstraf opgelê is, het ‘n pleitooreenkoms met die staat aangegaan, sê Swanson.

Die eerste verdagte, Rudi Kruger (32), se saak duur voort. Sy laaste verskyning by die Kaapse hooggeregshof was op Donderdag 13 Maart.

“Om die sukses te sien is gerusstellend. Ek het ‘n passie vir die werk wat ek doen. Die tronkstraf gaan nie die slagoffers terugbring nie, maar dit is iets positiefs en geregtigheid het geskied,” sê Swanson.

Swanson, wat 21 jaar diens in die polisie het, sê soms raak die ondersoeke persoonlik. Hy sê die senior egpaar se dogter, hul enigste kind, woon oorsee. Luidens mediaberigte woon sy in Kanada.

Swanson sê sy het nog die Sondagaand met haar ouers oor die telefoon gesels. “Jy leef jou in die pyn en lyding van die slagoffer se familie in. Jy kan nie die pyn wegneem nie, maar dit is ten minste afsluiting vir ons albei.”

Op Dinsdag 8 Oktober verlede jaar is die lyk van nog ‘n senior, past. Dirk Miller (80), by sy huis in M.E. Rothmanstraat, Parow-Noord, aangetref.

Swanson sê niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article