Mushin Ertugral tydens sy eerste nuuskonferensie as afrigter van Ajax Cape Town.

Avril Fillies

“Dis belangrik vir Suid-Afrikaanse sokker dat die
Premier-Sokkerligaklub, Ajax Cape Town, goed doen in die PSL, want die klub
ontwikkel jong spelers wat aan ander klubs in die land beskikbaar gestel word.
Ek kom al ‘n lang pad met die klub en is hier om die klub in die tweede helfte
van die seisoen weer op die regte pad te kry.”

Dit is hoe Mushin Ertugral, afrigter van Ajax Cape Town,
vanmiddag op sy eerste nuuskonferensie in Parow gesê het. Ajax speel môreaand
teen Maritizburg United in die Kaapstad-stadion.

Ertugral het die afgelope week met die spelers gewerk en hy
was in sy nappies met die klomp jong spelers wat die res van die seisoen die
verrassingselement in hul tuis- en wegwedstryde kan wees.

“My grootste taak is om eers die regte kombinasies te vind
en om die spelers se gemoedstoestand op die regte plek te kry. Ek het nog nie
al die spelers in aksie gesien nie en sal eers na drie wedstryde ‘n idee het
van hoe die kombinasies gaan uitsien, tot dan werk ek met die spelers en talent
wat ek het. Ons speel ses wedstryde tuis en sal met van die voorlopers op die
punteleer kragte meet, maar my eerste prioriteit is om eers die wedstryd teen
Maritzburg United agter die rug te kry,” het Ertugral gesê.

 Hy het dit beklemtoon dat ander spanne van die noorde in die
verlede glad nie daarna uitgesien het om in die Moederstad te speel nie en hy
wil daardie “vrees” weer by die spanne inblaas en Ajax se spelers laat glo dat
jy nie in die Kaap kom speel, sonder dat jy vir jou drie punte werk nie.

 “Ajax het destyds  ‘n aura uitgestraal dat jy op die
dag van die wedstryd nie geweet het of hulle net gaan verdedig, jou van jou
voete gaan speel  en of aanslae van alle kante van die veld op jou doelhok
geloods gaan word nie. ‘n Paar interessante wedstryde gaan beslis word, want
Ajax wil sy posisie op die punteleer verbeter,” het Ertugral gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article