Die Elsiesrivier-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) sê hy is bekommerd oor die toename in skietery in Leonsdale, wat deel van Sektor 3 is.

Elsiesrivier is een van die gebiede op die Kaapse Vlakte waar bendegeweld hoogty vier. Tientalle mense het reeds vanjaar in bendegeweld gesterf.

Hamish Arries, voorsitter van die GPF, sê dit was vir ’n geruime tyd redelik kalm, maar skielik was daar drie skietvoorvalle. “Ek wil my innige meegevoel uitspreek met die Dammas-gesin van Elfdelaan ná die skietdood van Lameese Dammas. Ek het die oorledene persoonlik geken omdat sy gereeld aan werksessies by die biblioteek deelgeneem het. Terwyl ek treur oor iemand wat ek as my eie kind geag het, is ek ook kwaad en hartseer omdat ons jongmense so wreed en sonder rede vermoor word,” sê Arries.

Arries sê hulle doen ’n beroep op die strydende partye in die heersende konflik om nie vergeldingsaanvalle van stapel te stuur nie.

“Ons gaan al ons strukture en die gemeenskap inspan deur ons gereelde vredesoptogte en imbizo’s as ingryping in hierdie gemors. Dit is belangrik dat die skieters en wapens van die strate af verwyder word. Ons gaan saam met die wetstoepassingsbeamptes werk om ons strate weer skoon te kry,” sê Arries.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article