‘Ek laat nie die woord gestremd by my opkom nie’: Gehoorgestremde gimnas mik hoog

Daniël Meyer in aksie.


Daniël Meyer (18) is nie ’n gewone tiener nie.

Hy is ’n top-gimnas wat onlangs gekies is vir die Suid-Afrikaanse span, wat nou in Serwië aan die Memorial Laza Krstic and Marica Dzelatovic Cup deelneem.

Hy is ook sonder enige gehoor gebore. En as dit nie vir sy gehooruitdagings was nie, sou hy dalk nooit aan gimnastiek deelgeneem het nie.

As kind het Meyer se ouers, Madelein en Marius, al die moontlike gedoen om vir hom ’n normale lewe te gee.

Hy het op ses maande al gehoorapparate begin dra en op agt maande sy eerste kogleêre inplanting ondergaan.

Hulle het hom vir spraakterapie gevat en teen vier was sy spraak op peil. Hy was in ’n hoofstroom-laerskool en later -hoërskool.

Uithouvermoë

Toe hy nog klein was, het Madelein gehoor mense met gehoorprobleme kan dalk met hul balans sukkel en het sy hom toe na Tyger Gymnastics in Ridgeworth gevat.

Sy eertydse afrigter by die klub, Annette Minnaar, en Madelein self, sê albei Daniël was nie van meet af die beste gimnas nie.

Maar toe hy eers die sport sy eie maak, was daar geen keer aan hom nie.

Dis juis een van die eienskappe wat Daniël in oormaat het – uithouvermoë.

Terwyl sy vriende in die middae oor en weer gekuier het, het hy vir die grootste deel van sy skoolloopbaan vir ure in die middag gimnastiek geoefen.

Selfs nou, tydens die matriekeksamen, het Meyer, wat in die Hoërskool Stellenberg is, elke middag na Stellenbosch gery, waar hy drie en ’n half ure geoefen het. En op Saterdae nog ’n ekstra sessie ingepas.

En elke aand, nadat hy weer by sy huis in Ridgeworth was, het hy sy boeke nader geskuif en begin leer.

Maar sy werk het vrugte afgewerp en gister het hy en die res van die span Serwië toe gevlieg, enkele dae nadat hy sy laaste vak geskryf het.

En wanneer hy ’n paar dae later terugkom huis toe, is daar nog kompetisies wat wag – die eerste een in Johannesburg.

Daniel Meyer.

Daniel Meyer in aksie.Foto:

Daniël sê sy inplanting is eintlik nie iets waaraan hy dink nie. “Dit het al vir my tweede natuur geword om dit te hanteer. My afrigter en spanmaats weet hoe dit werk vir ingeval iets gebeur. Ek laat nie toe dat die beskrywing ‘gestremd’ by my opkom nie. My prestasies in die sport is net soos enige ander mens in my span bereik. Ná weke en maande se oefen is ek baie trots daarop; ek geniet verskriklik baie die adrenalien van die oefening.”

Daniël het op skool gou deur die verskillende gimnastiekvlakke beweeg – eers alles wat hy by Minnaar kon voltooi en later hoër vlakke by ACS in Monte Vista.

Die Toekoms

Deesdae ding hy op junior- Olimpiese vlak mee en sal seker volgende jaar op senior- Olimpiese vlak deelneem. Dit beteken egter nie sy kop is deur vir enige toekomstige Olimpiese spanne nie.

“Ek sal nog moet kyk wat die toekoms vir my inhou,” sê hy.

“Maar vir nou hou ons maar by gimnastiek; die sport het my liefde van kleins af en dit sal nie vir my reg wees om dit te los net omdat skool verby is nie.”

Hy wil by die Universiteit van Kaapstad studeer, maar wag nog om te hoor of hy keuring vir argitektuur gekry het.

“Dit gaan baie goeie tydbestuur en determinasie verg om al twee te balanseer met genoeg aandag aan elk, maar ek sien kans vir die uitdaging.”

Daniël sê mense moet in hulself glo. “Hou aan probeer; weet dat jy jou drome kan laat waar word. Elke mens het ’n droom en elke persoon sal wat gee om daai droom ’n realiteit te maak, maar dit verg deursettingsvermoë en determinasie. Hoe meer jy in jouself glo, hoe meer sal ander ook in jou glo.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article