Die vrou wat onlangs gesien het hoe ’n man in Blackheath verdrink, sê sy het kort voor die voorval ’n droom gehad oor wat gaan gebeur.
Jannie Mars het verdrink kort nadat hy ’n vrou gehelp het om haar vasgekeerde motor tydens die onlangs storms uit die water te kry. Mars se familie het ’n kruis met sy naam daarop by die toneel van sy onverwagse en tragiese sterfte opgerig.
Malende water
Denisia Ruiters, wat binne stap-afstand van die toneel werk, sê sy het een aand voor die voorval ’n droom gehad waarin sy baie water gesien het.
“Ek het die malende water gesien en kon hoor hoe ek skree en gil. Die volgende oggend het ek my dogter van die droom vertel en sy het gesê ek moet bid en ek het dit gedoen. Die oggend van die voorval het alles omtrent net so uitgespeel,” sê Ruiters.
Ná die voorval kan sy wat gebeur het, nie uit haar kop kry nie. “Ek moet elke dag daar verbystap onderweg werk toe.
“Die dokter het vir my kalmeerpille voorgeskryf, want die gebeure speel oor en oor in my kop af. Ek dink dit sal vir ewig by my bly,” sê Ruiters.
Sy het so 06:00 die noodlottige oggend in Blackheath, waar sy by ’n sekerheidsmaatskappy werk, aangekom.
“Die paaie was oorspoel en ons kon nie deurkom nie. Ek het ’n agtergrond in lewensredding en ek weet ’n mens kan nie water vertrou nie, veral as jy nie kan sien wat onder aangaan nie.
“Terwyl ons daar gewag het, het ’n verkeersman ook motoriste gewaarsku om nie die water aan te durf nie. Hy het gesê enigiemand wat probeer deurgaan, doen dit op eie risiko,” sê Ruiters.
Nog moeilikheid
Baie mense het nie gehoor gegee nie en die water aangedurf. “’n Vrou in ’n swart Polo het ander motors gevolg en was kort voor lank in die moeilikheid. Ons wou haar nog keer, maar sy het begin dryf. Ek het die mans wat rondgestaan het gevra om te gaan help, maar niemand wou nie. Die oorledene het aangestap gekom en hy was die eerste mens wat aangebied het om die vrou te help,” sê Ruiters.
Sy sê nadat die vrou gehelp is, het Mars begin aanstap. “Ek het hom nog gevra om nie te stap nie, maar hy het net aangestap. Ek werk langs daai pad en ken die pad. Ek het gegil en geroep en die volgende oomblik het hy in die water geval. Ek het so te kere gegaan dat my foon uit my hand uit geval het en ek daarop getrap het. ’n Man wat by ’n swembadvervaardigingsplek daar naby werk wou induik, maar die water was te woes. Ek het so magteloos gevoel,” sê sy.
Volgens Ruiters gaan haar hart uit na die vrou van die oorledene. “Ek het ook my man aan die dood afgestaan. In my geval het hy nierprobleme gehad en ons kon darem sy dood sien kom. Ek kan net dink hoe Mars se vrou voel, wat haar man die oggend op pad werk toe gegroet het en hom nie weer gesien het nie.”
’n Begrafnisdiens vir Mars word Saterdag omstreeks 07:00 by sy huis in Wesbank gehou





