.Die IE bestuur is, van links: Mirizca Theron, Michelle de Villiers, Zelda Langeveldt Stewart, Francois Lubbe, Neels Delport, Coenie Koegelenberg, Martie Rosenstrauch en Mariechen Hattingh.

Credit: SYSTEM

In sy 75ste bestaansjaar het die Tygerberg Internasionale Eisteddfod (TIE) besluit om weer die gordyn op al sy werksaamhede te lig.

So sê Francois Lubbe, voorsitter van TIE.

Weens Covid-regulasies het die TIE in 2020 geen beoordeling gehad nie en in 2021 in sekere kategorieë virtuele beoordeling op ’n kleiner skaal.

“Na die onafwendbare beperkinge van Covid, is dit belangrik vir leerders om nou die geleentheid te kry om formeel voor ’n gehoor op te voer of uit te stal.

“Leerders sien en ervaar hul portuurgroep in aksie deur aan eisteddfods deel te neem, en in die proses leer hulle van mekaar,” sê Lubbe.

Deur na ander leerders te kyk, verkry deelnemers ’n wyer perspektief, meen hy.

“Om voor ’n gehoor op te tree, ontwikkel leerders se selfvertroue en dit verskaf genot en bevrediging. Dit is ook belangrik dat leerders in ’n ander en soms meer formele ruimte optree. Dit motiveer hulle en versterk dissipline en dryfkrag om ’n afgeronde opvoering te lewer.

“Daarom het ons vanjaar, in ons 75ste bestaansjaar, besluit om weer op volle skaal oop te stel en leerders die geleentheid te gee om deel te neem,” sê hy.

Die terugvoering van beoordelaars stel deelnemers in staat om self te reflekteer oor hul eie opvoering.

Lubbe is opgewonde oor dié vooruitsig.

“Die kinders het oor die pandemietyd swaargekry. Dit was moeilik om te sien hoe die kore verlede jaar by skole met hul maskers aan moes sing. Ons moet dinge nou weer aan die lewe kry,” sê Lubbe.

Anina Lundie, die senior kurrikulumbeplanner vir skeppende kunste by die Wes-Kaapse Onderwysdepartement, meen dat dit op sigself die ontwikkeling van vaardighede ondersteun om prestasie in die klaskamer- en kurrikulumgebaseerde-kunstevakke te verbeter.

Met die viering van hul 75ste bestaansjaar wil TIE ook erkenning gee aan die leerders wat in 75 jaar oor hul verhoë gestap het.

“Ons wil ook hulde bring aan almal wat ’n pad gestap het en vir leerders en geleenthede geskep het om op te tree en hulle te ontwikkel. Net soos diamante oor eeue heen geslyp word en ontwikkel, word leerders ook geslyp en ontwikkel deur aan die eisteddfod deel te neem en tot volronde volwassenes te ontwikkel, wat die lewe met selfvertroue tegemoet kan gaan.”

Daar sal vanjaar drie nuwe kategorieë wees – gedramatiseerde gedigte, kitaar en ukelele met elektroniese begeleiding.

Vanjaar se inskrywings sluit op 18 Maart.

Vir navrae kan Zelda Langeveldt-Stewart by 083 302 5501 of eisted@iafrica.com gekontak word. Die webadres is www.tygerbergeisteddfod.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article