Joanita Richter (regs) saam met haar man, Reginald, en seun, Jaydon.

Credit: SYSTEM

Hoewel sy reeds van skooldae af dig, het ’n digter eers in 2019 die selfvertroue gehad om ’n bundel vry te stel. En toe publiseer sy sommer twee bundels in een jaar.

Joanita Richter van Eersterivier se bundel Emosies in Woorde is eersdaags op die rakke.

“Ek het in 2019 ’n gedig op ’n radiostasie voorgedra en het besef mense reageer daarop. Dit het my die selfvertroue gegee om aan te gaan en verder te skryf,” sê Richter, ’n tuisteskepper.

Teen die tyd dat sy besluit het om haar gedigte te laat publiseer, het sy al baie gehad.

“Ek het in Januarie die eerste bundel uitgegee en dit was vir my ’n groot deurbraak. Daarna het ek besef ek het nog honderde gedigte en dis waar die tweede bundel vandaan kom,” sê Richter.

Volgens haar skryf sy oor alledaagse dinge soos die liefde, maar lê geslagsgeweld haar ook na aan die hart.

“Met my gedigte wil ek mense aanraak. As die lees van een van my gedigte ’n verskil in iemand se lewe maak, is dit al die moeite werd.

Volgens Richter ondersteun haar man, Reginald, en seun, Jaydon (11), haar passie.

“Hulle is my grootste ondersteuners en ondersteun my heelhartig. Die voorblad van my tweede bundel is deur Jaydon ontwerp,” sê sy.

Richter se tweede bundel verskyn eersdaags by Malherbe-uitgewers.

Stuur e-pos na Richter by joanitarichter6@gmail.com met navrae.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article