Die ma van ’n meisie wat onlangs by die Hoërskool Tuscany Glen deur ’n medeleerder aangerand is, is woedend omdat haar dogter bykans dieselfde straf as die aanrander ontvang het.
Die 16-jarige Miché Karstens (skuilnaam) is by die skool aangerand terwyl ’n ander leerder ’n video van die aanval gemaak het. Die video is wyd op die internet versprei, wat daartoe gelei het dat die slagoffer in ’n stadium te bang was om skool toe te gaan.
LEES OOK | Leerder getraumatiseer ná aanranding by Hoërskool Tuscany Glen
Die tugverhoor by die skool het verlede week plaasgevind, maar die ma van die slagoffer beskryf dit as ’n “absolute klug”.
Die aanvaller het ’n maand detensie en ’n bykomende sewe dae se skorsing ontvang, nadat sy reeds vir sewe dae geskors was, terwyl die videomaker en die slagoffer ’n maand detensie gekry het.
Die ma van die slagoffer voel haar dogter is ’n tweede keer gestraf. “Hulle beskuldig my dogter daarvan dat sy stories versprei het, maar nie een kon bewyse vir die stories gee nie. Hoe kan jy ’n kind wat so wreed aangeval is saam met haar aanvallers straf? My kind is getraumatiseerd weens die voorval en is steeds bang om sonder beskerming by die skool aan te kom. Ek moes haar onlangs by die skool gaan haal toe sy paniekerig geraak het,” sê die ma.
Volgens die ma het die tugverhoor afgespeel asof die skool net die hele ding onder die mat wou vee. “Ek het ’n strafregtelike saak aanhangig gemaak, maar die persoon wat my kind aangerand het kom met dieselfde klag weg. Dit is ’n klug,” sê die ma.
TygerBurger het die ondersoekbeampte in die voorval om kommentaar genader, maar omdat die ondersoek in ’n sensitiewe stadium is, kan nie nou kommentaar daaroor gelewer word nie.
Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement het teen druktyd nie op TygerBurger se navrae ten opsigte van die tugverhoor gereageer nie.





