Een
persoon is dood en vyf ander is beseer in ‘n motorongeluk Dinsdagoggend (23
Mei). Die ongeluk het kort ná 08:00 op die hoeke van Plattekloofweg en
Rothschild Boulevard – enkele meters vanaf die Mediclinic Panorama – plaasgevind.
TygerBurger
het vroeër berig hoe ‘n Ford-bakkie, ligte vragmotor en ‘n sportsnutsvoertuig
teen mekaar gebots het. Die bakkie het teen ‘n kontroleboks van ‘n stel
verkeersligte gebots en dit beskadig. Die boks is reg voor die
Northlink-kollege.
Die
polisie, Stad Kaapstad se brand- en reddingsdienste, sowel as nooddiens ER24 was
op die toneel.
Russel
Meiring, ER24-woordvoerder, het bevestig dat een man dood is en vyf ander
beserings opgedoen het. Volgens Meiring was daar ses manspassasiers in die
bakkie. Een van die passasiers was in ‘n kritieke toestand, die res het geringe
beserings opgedoen.
“Medici
het die pasiënte behandel en ook lewensondersteuning aan die kritieke man
verskaf. Ná die behandeling is die pasiënte na nabygeleë hospitale vervoer
vir veredere behandeling. Met hul aankoms by die hospitaal is die kritiekbeseerde
man aan sy beserings dood,” volgens Meiring.
Die
ongeluk het erge drukverkeer tydens spitstyd veroorsaak.





