Een dood, een gewond in vermeende bende-skietery in Bonteheuwel

Foto ter illustrasie. Foto: Unsplash


Die Bishop Lavis-polisie ondersoek sake van moord en poging tot moord nadat ’n man die afgelope naweek doodgeskiet en nog een gewond is.

Sers. Samantha Adonis, ’n polisiewoordvoerder, sê die skietery het Saterdagaand omstreeks 23:00 in Citrusstraat in Bonteheuwel plaasgevind.

“Die oorledene is ’n 24-jarige man en hy het op die toneel aan kopwonde beswyk. Die ander slagoffer is ’n 16-jarige wat ook in die kop geskiet is. Hy is na ’n nabygeleë hospitaal vervoer,” sê Adonis.

Volgens Adonis word die saak as ’n bendeverwante voorval beskou.

“Niemand is nog in verband met die skietery in hegtenis geneem nie. In hierdie stadium blyk dit ’n verbyry-skietery te wees,” sê Adonis.

Sy het mense met inligting oor die voorval gevra om die polisie te nader.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article