Die redelike stilte in terme van bendeverwante skietvoorvalle is Sondagaand in Bishop Lavis aan flarde geruk toe ‘n 21-jarige man doodgeskiet en ‘n 19-jarige gewond is.
Die Bishop Lavis-polisie het by monde van ‘n woordvoerder sers. Samantha Adonis gesê die skieters het ‘n huis in Reenbergweg se deur oopgedwing en op die teenwoordiges losgebrand.
“Die oorledene is in die bolyf gewond, terwyl die oorlewende wonde in die lies en aan die bo-arm opgedoen het. Die verdagtes is nog nie in hegtenis geneem nie en kon ook nie uitgeken word nie omdat hul gesigte tydens die voorval bedek was. DIt blyk in hierdie stadium of die skietery bendeverwant is,” sê Adonis.
Sondag se skietery is een van talle die afgelope ruk in die Kaapse Skiereiland. Verlede week is vyf mense in Mitchell’s Plain doodgeskiet en nog sewe gewond. Oor die res van die Skiereiland is sewe ander mense die afgelope naweek tydens bendegeweld afgemaai. Dit sluit drie mans in wat Vrydag in die Covid-nedersetting in ‘n hokkie doodgeskiet is.
Die Wes-Kaapse minister van gemeenskapsveiligheid, Anroux Marais, het die moorde veroordeel en die Stad Kaapstad het bykomende personeel beskikbaar gestel om met misdaadbekamping te help.
Die wetstoepassers sluit hulle by die polisie se bende- en taktiese eenhede aan, wat gaan saamspan om die skuldiges aan die pen te laat ry.
Marais het die polisie en wetstoepassers in ‘n verklaring aangemoedig om alles tot hul beskikking te gebruik om die bendebedrywighede hok te slaan.
“Ek wil ook ‘n beroep op die publiek doen om enige inligting waaroor hulle [moontlik] beskik, met die polisie te deel. Dit sal vertroulik hanteer word,” sê sy.
Adonis het op haar beurt ‘n beroep op inwoners van Bishop Lavis gedoen om die polisie in hul ondersoek na die moord en poging tot moord in Reenbergweg by te staan.
“As jy iets weet en dink dit is dalk nie belangrik nie, laat weet steeds die polisie. Dit kan dalk net die verskil in die ondersoek maak.”





