Die Goodwood-polisie het bevestig dat een persoon dood is en nog een na ’n nabygeleë hospitaal toe gehaas is ná ’n beweerde tref-en-trap-ongeluk op die Monte Vista-brug.
Volgens kapt. Waynne Theunis, polisiewoordvoerder, is niemand nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Hy sê die polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag na die ongeluk.
Die ongeluk het op Vrydag 28 Julie kort ná middernag plaasgevind.
Volgens die privaat sekerheidsmaatskappy District Watch is van hul beamptes na die toneel nadat hulle ’n noodoproep oor die ongeluk op die brug ontvang het.
“ ’n Motor het van die toneel af weggejaag in Monte Vista-boulevard en twee beseerdes agtergelaat.
“Die brandweerdienste, hoofwegpatrollie, paramedici en die polisie is ook na die toneel ontbied,” lui ’n inskrywing op hul sosialemedia-blad.
Volgens District Watch is die bestuurder naby winkels in Monte Vista-boulevard gekry.
Hy het glo aan hulle beweer dat hy ’n lamppaal raakgery het.
Die twee slagoffers, ’n volwasse man en vrou, is glo albei haweloses in die gebied.
District Watch het sy medelye met die naasbestaandes van die oorledene uitgespreek.
Cheryl Visser, wyksraadslid, sê sy is egter nie van die voorval in kennis gestel nie, maar het aangedui dat sy jammer is om daarvan te hoor.
“Dit is vir my hartseer dat ek niks hiervan weet nie. Niemand het dit onder my aandag gebring nie. Ek gaan die verkeersdepartement hieroor vra,” het sy laat weet.





