Een dood, drie vir behandeling geneem ná voorval in Parow

Een man is dood en twee vroue en nog ’n man is beseer ná ’n voorval by ’n klerewinkel in Parow verlede week. Die polisie vermoed ’n gas-lekkasie kon tot die voorval gelei het.


Een man is dood en nog drie mense – twee vroue en nog ’n man – word in die hospitaal behandel ná ’n voorval verlede Woensdagaand in Parow.

Kapt. Frederick van Wyk, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, sê ’n geregtelike doodsondersoek is by die Parow-polisie geregistreer ná ’n voorval op Woensdag 28 Junie om 18:10 by ’n klerewinkel in Stasieweg, Parow. ’n 40-jarige man van buitelandse afkoms is oorlede en nog ander moes gehospitaliseer word.

“Die omstandighede rakende die voorval word ondersoek,” sê Van Wyk.

Hy sê ’n lykskouing sal ook uitgevoer word om die oorsaak die man se dood te bepaal.

’n Gas-lekkasie word glo vermoed

TygerBurger het vertroulik verneem ’n gas-lekkasie kon dalk tot die voorval gelei het. Die Stad Kaapstad se brand- en reddingsdienste het ook bevestig dat een van hul beamptes ’n gas-reuk bespeur het.

Jermaine Carelse, woordvoerder van dié dienste, sê brand- en reddingsdienste van Goodwood, Belhar en Bellville is na die toneel gestuur. Die dienste is omstreeks 17:45 ontbied toe aangemeld is dat iemand bewusteloos in ’n klerewinkel lê, op die hoek van Stasie- en Victoriaweg, Parow, sê Carelse.

Die beampte wat eerste op die toneel was, het bevestig dat daar ’n sterk reuk van gas (koolstofmonoksied) was, en het die Stad se sogenaamde Hazmat-voertuig versoek.

“Brandbestryders het hulself met selfbeherende asemhalingsapparaat toegerus om die slagoffers uit die gebou te red,” sê Carelse.

Pasiënte na Tygerberg-hospitaal vervoer

Daar was altesame vier pasiënte – twee vroue en twee mans, het Carelse bevestig. Twee vroue en ’n man is na ‘n nabygeleë hospitaal vervoer. Die tweede man is op die toneel dood verklaar.

Die toneel is om 19:20 aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens oorhandig, sê Carelse.

Megan Davids, woordvoerder van die EMS-ambulansdiens, kon nog nie die dood van die een slagoffer bevestig nie, maar het wel bevestig dat hulle drie pasiënte na die Tygerberg-hospitaal vervoer het – twee vroue wat kritiek beseer was en een man wat beseer is. “Daar is geen bevestiging van ’n dood wat aan EMS op die toneel aangemeld is nie,” sê sy.

Die EMS-dienste het die noodoproep om 17:40 ontvang om hulp te verleen aan vier pasiënte wat flougeval het, sê sy.

“Ons dienste is uitgestuur na Stasieweg en Victoriaweg, Parow, en die eerste ambulans het om 17:44 by die toneel opgedaag,” sê Davids.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article