Een persoon is dood en nog drie, twee vroue en nog ‘n man, word in die hospitaal behandel ná ‘n voorval Woensdagaand in Parow.
Kapt. Frederick van Wyk, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, sê ‘n geregtelike doodsondersoek is geregistreer by die Parow-polisie ná ‘n voorval op Woensdag 28 Junie om 18:10 by ‘n klerewinkel in Stasieweg, Parow.
“Die omstandighede rondom die voorval word nog ondersoek,” sê Van Wyk.
Hy sê ‘n nadoodse ondersoek sal uitgevoer word om die oorsaak van die 40-jarige oorledene se dood te bepaal.
TygerBurger het vertroulik verneem dat ‘n gas-lekkasie dalk tot die voorval kon gelei het.
Van Wyk sê die oorledene is van buitelandse afkoms.
Jermaine Carelse, woordvoerder van die Stad Kaapstad se brand- en reddingsdienste, sê brand- en reddingsdienste van Goodwood, Belhar en Bellville is na die toneel gestuur.
Hul dienste is omstreeks 17:45 ontbied toe daar aangemeld is dat ‘n persoon bewusteloos in ‘n klerewinkel lê, op die hoek van Stasie- en Victoriaweg, Parow.
Die eerste beampte op die toneel het bevestig dat daar ‘n sterk reuk van gas (koolstofmonoksied) was, en het die Stad se sogenaamde Hazmat-voertuig se dienste versoek. “Brandbestryders het hulself met selfbeherende asemhalingapparaat toegerus om die slagoffers uit die gebou te red,” sê Carelse.
Daar was altesaam vier pasiënte, twee vroue en twee mans, het Carelse bevestig. Die twee vroue en een man is na ‘n nabygeleë hospitaal vervoer. Die tweede man is op die toneel dood verklaar.
Die toneel is om 19:20 aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens oorhandig, sê Carelse.





