Dwelms ter waarde van R4 miljoen is op die Kaapstadse Internasionale Lughawe gevind – versteek in sjokoladeomhulsels.


Sjokolade (en selfs die tekort daaraan) het al tot talle mense se val gelei – meer onlangs ’n dwelmsmous op die Kaapstadse Internasionale Lughawe.

Die man, ’n beskuldigde in een van twee groot dwelmsake wat verlede week in die Bellville-landdroshof voorgekom het, is verlede Dinsdag deur lede van die polisie se provinsiale dwelmtaakspan in hegtenis geneem.

Volgens AO Joseph Swartbooi, provinsiale polisiewoordvoerder, is polisiebeamptes op strategiese plekke geplaas om passasiers van ’n vlug uit Dubai te deursoek.

Swartbooi is vol lof vir die feit dat die polisie “deur die geharwar kopgehou het”.

Hulle is beloon met ’n vonds van altesame 4 kg kokaïen, wat in ’n man se handbagasie gevind is. Dit was in sjokoladeomhulsels toegedraai. Die geskatte waarde van die dwelms is R2,4 miljoen.

Die man (37) is in hegtenis geneem en het verlede week op dwelmverwante aanklagte in die Bellville-landdroshof verskyn.

In ’n ander voorval is beslag gelê op dwelms van R40 000 in Bellville.

Volgens Swartbooi het lede van die taakspan teen kommersiële misdaad verlede Woensdag op die Gianella-woonstelkompleks in Voortrekkerweg toegeslaan.

“Hulle het heelwat woonstelle deursoek en drie mense in hegtenis geneem nadat hulle in besit van dwelms ter waarde van R40 000 betrap is.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article