Coenie Venter (links), skoolhoof, en Ernst Koen, voorsitter en stigterslid van die Durbiebond, voor die ingang van die nuwe hoëprestasiesentrum.

Credit: SYSTEM

Die Hoërskool Durbanville gaan beslis sy spiere nóg meer op die sportveld kan bult nadat die skool onlangs sy nuwe hoëprestasiesentrum in gebruik geneem het.

Die sentrum is verlede Dinsdagaand amptelik ingewy met ’n plaatonthullingsplegtigheid, wat deur die stigterslede van die skool se oudleerderorganisasie, die Durbiebond, aangebied is.

Lede van die Durbiebond, skoolverteenwoordigers en gaste het die geleentheid bygewoon. Die gebruik van al die toerusting en apparate is stap-vir-stap verduidelik, het Ernst Koen, voorsitter en stigterslid van die Durbiebond, gesê.

Die sentrum dien as ’n oefensentrum vir alle sportkodes wat deur die skool aangebied word, sowel as ander kurrikulêre aktiwiteite soos lewensoriëntering. Die sentrum is toegerus met moderne gimnasiumtoerusting, wat aan alle ouderdomsgroepe se behoeftes voldoen, sê Koen.

Dit het ’n vloerbedekking van sintetiese gras, asook vloerarea wat voorsiening maak vir binnenshuise aktiwiteite en vaardigheidsessies indien die weer dit noop.

Die gebou waarin die sentrum is, het tot in die vroeë jare tagtig as die skoolsaal gedien, maar is in 1983 deur ’n brand in puin gelê. Dit is daarna herstel en as ’n LO- en eksamenlokaal aangewend, sê hy.

Die skool het intussen in die vroeë jare tagtig ’n ouditorium opgerig wat sedertdien as skoolsaal dien, asook meer onlangs ’n aktiwiteitsentrum met ’n binnenshuise netbalbaan. Die aktiwiteitsentrum word ook gebruik om die skool se snelgroeiende leerdertal gedurende saalbyeenkomste te akkommodeer, sê Koen.

“Die sentrum was vir ’n baie lang tyd die visie en droom van baie betrokkenes – onder meer vorige skoolbeheerliggame en verskeie komitees, maar dit was grootliks die inisiatief en leiding van Freddie Brooks, hoof van sportontwikkeling en bemarking, wat uiteindelik die finale produk gelewer het,” sê hy.

“Soos met enige kapitaalprojek by ’n skool word daar staat gemaak op finansiering van die skool, sowel as buitestaanders se welwillendheid en bydraes.

“In hierdie geval is die grootste koste deur borge, donasies, produk- en diensskenkings – van onder meer die Durbiebond en verskeie plaaslike sakeondernemings – gedra.

“Hiervoor is die skool en die Durbiebond ons lojale gemeenskap vir ewig dankbaar en maak ons staat op hul volgehoue ondersteuning met nog vele projekte, onder meer nuwe klaskamers,” sê Koen.

Hoërskool Durbanville

Coenie Venter (links), skoolhoof, en Ernst Koen, voorsitter en stigterslid van die Durbiebond, voor die ingang van die nuwe hoëprestasiesentrum.

Ernst Koen (links), voorsitter en stigterslid van die Durbiebond, wens Freddie Brooks, hoof van sportontwikkeling en bemarking, geluk met sy handewerk.

Die Durbiebond het in ooreenkoms met die skool ’n perseel op die skoolterrein betrek en is in die proses om dit in te rig as ’n lokaal vir gesellighede, administrasie, ’n winkel en ’n museum vir erfenisdoeleindes.

“Hierdie lokaal dien as ’n tuiste vir alle Durbiebondlede, asook voornemende lede wat die behoefte het om ons skool se belange voorop te stel,” sê hy.

Kontak Desiré Hinze by die Durbiebond-kantoor by 063 767 0813 of admin@durbiebond.co.za met navrae oor hoe om betrokke te raak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article