'n Jongman is erg aangerand toe hy vroegoggend kos by die FreshStop gaan koop het.
‘n Jongman is erg aangerand toe hy vroegoggend kos by die FreshStop gaan koop het.

Durbanville is nie die Wilde Weste nie, en daar sal teen jongmense wat hulle skuldig maak aan rampokkery ná onverantwoordelike drinkery, opgetree word, waarsku die Durbanville-polisie.

Dit kom ná twee voorvalle van aanranding, waarvan een in die parkeerterrein voor die Stones-kuierplek by die Palm Grove-winkelsentrum in Durbanville, en meer onlangs ‘n voorval by die FreshStop-geriefswinkel by die Astron-vulstasie, sê kol. Gonum Munsamy, bevelvoerder van die Durbanville-polisie.

In die mees onlangse voorval is ‘n 19-jarige jongman erg deur drie jongmans aangerand toe hy op Dinsdag 27 Januarie kos by die FreshStop by die Astron-vulstasie in Wellingtonweg in Durbanville gaan koop het. Hy is glo pap geslaan en geskop in die voorval, waarin onder meer sy neus gebreek is. Twee verdagtes is in verband met die aanranding in hegtenis geneem en het verlede Maandag ( 9 Februarie) in die Bellville-landdroshof verskyn.

Bewusteloos geslaan

‘n Ander jongman (18) is op Woensdag 14 Januarie vroegoggend ná vermoedelik die viering van sy matriekpunte, wat die vorige dag bekendgemaak is, aangerand. ‘n Bakleiery het omstreeks 01:00 in die parkeerterrein voor die Stones-kuierplek uitgebreek. Die slagoffer is deur ses jongmans bewusteloos geslaan. Vyf verdagtes, van wie twee 18 jaar oud en drie 19 jaar oud, is in hegtenis geneem en het reeds op 3 Februarie in die Bellville-landdroshof verskyn, sê Munsamy.

Aanklagte van aanranding word in albei voorvalle ondersoek.

Munsamy het jongmense van Durbanville gewaarsku om alkohol verantwoordelik te gebruik. ” ‘n Rondkuiery in die dorp bring ook onnodige misdaad mee waarin elektroniese toerusting soos selfone wegraak, en dit dan later as gesteel aangemeld word,” waarsku sy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article