“Ons moenie moed opgee nie, maar aanhou om geloof, hoop en liefde te hê in tye van verlies. Ons moet veral aanhou om lief te hê,” het past. Mkuseli Mdlazi, kapelaan van die polisie se Kaapstad-distrik, verlede Woensdag gesê by die gedenkdiens vir Elmarie Crous van die Durbanville-polisie in die NG kerk Bergsig-Durbanville.
Die Durbanville-gemeenskap het sy arms oopgegooi en talle mense, ondernemings en organisasies het borde eetgoed by die kerk vir die gedenkdiens afgelewer.
Crous, wat 33 jaar lank in die polisiediens gewerk het, waarvan 21 jaar by die Durbanville-polisie, is op Dinsdag 19 Julie op slag dood in ’n botsing met ’n vragmotor toe sy van haar huis in Kraaifontein op pad werk toe was.
Die ongeluk het omstreeks 06:00 op die hoek van Okavangoweg en Tannerstraat naby die Capegate-winkelsentrum in Brackenfell plaasgevind.
’n Klag van strafbare manslag word deur die Brackenfell-polisie teen die bestuurder van die vragmotor ondersoek.
Aanhou glo
”Elmarie het baie liefde gehad om te gee,” het Mdlazi gesê. “Dit maak nie saak hoe baie ons in God glo nie, die tragiese afsterwe van ’n geliefde verskeur steeds ons harte. Mense wonder dikwels hoekom moet ons nog hoop en geloof hê, maar ons moet aanhou glo in God; dit maak dat ons opstaan, selfs as die lewe ons laat plat sit,” het hy gesê.
Crous, ook bekend onder kollegas as Ella of Maria (na aanleiding van haar geboortename), het in 1991 by die polisie in die administratiewe afdeling begin werk – onder meer in Stellenbosch, Struisbaai, Claremont en Hermanus. Sy het in 2003 in die menslikehulpbronafdeling by die Durbanville-polisie begin werk.
Hart vol liefde
Kol. Gonum Munsamy, stasiekommissaris van die Durbanville-polisie, het by die gedenkdiens aan haar man, Marius Crous, ’n afgetrede polisiebeampte, haar medelye oorgedra.
“Mag die Here jou troos in hierdie tyd van rou en jou in die holte van Sy hand hou,” het Munsamy gesê.
Haar broer, kol. Hennie Nel van die Table View-polisie, het gesê hy onthou sy suster vir haar hart vol liefde vir haar familie. “Haar huis was altyd oop vir familie. Sy het gehou van lekker kos en kon ook lekker kos maak,” het hy gesê.
“Maar haar tyd was nou hier. Tyd is kosbaar – meer kosbaar as geld. ’n Mens kan altyd meer geld hê, maar as jou tyd uitgeloop het, kan jy nie meer tyd terugkry nie. Die mooiste plek is om in iemand se hart en gedagtes te wees. Rus sag, my suster. Jy is by ons in ons gedagtes, harte en wese,” het hy gesê.
Kapt. Elvis Tyantsi, haar bestuurder met wie sy 18 jaar saamgewerk het, het vertel hoe Crous, selfs oor naweke en al was sy met verlof, ná ure sou werk toe kom om haar werk te doen.
“Sy was altyd gewillig om te help en baie toegewyd aan haar werk. Ek het baie by haar geleer,” het hy gesê. Ander kollegas het vertel hoe Crous hulle altyd beter laat voel het, en nuwelinge welkom laat voel het.
Begrafnisdiens
Daphne van Wyk, met wie sy ook 19 jaar vriende was, het gesê Crous was altyd daar vir haar “en net ’n WhatsApp ver”. Hulle het deur dik en dun saam kinders grootgemaak en matriekafskeide, later troues en die geboortes van kleinkinders meegemaak.
“Ons het baie op die bankie buite ons kantore gesit – soms gelag, soms gehuil, maar die meeste van die tyd geëet.
“Marius, baie dankie dat jy ’n goeie man vir haar was,” het sy gesê.
’n Begrafnisdiens vir familielede en vriende vind op Woensdag 31 Julie om 14:00 vanuit die NG kerk Parke in Kraaifontein plaas. Sy laat ook twee dogters en twee kleinkinders agter.





