Die Durbanville-gemeente is ‘n skitterende voorbeeld van hoe die kerk die sout en lig in die wêreld is, en ‘n bron van hoop, het Geordin Hill-Lewis, Kaapstadse burgemeester, verlede Vrydagaand gesê ter opening van ‘n spoggerige langtafel-ete om die NG kerk Durbanville se 200ste bestaansjaar te vier.
“Met hoe julle help met mense se praktiese alledaagse behoeftes en hoe julle hulle bemagtig om hul waardigheid op te eis, maak julle ‘n werklike verskil,” het hy gesê.

Altesame 200 mense het by die langtafel-ete op die kerkterrein in Weyerslaan aangesit vir ‘n kulinêre fees wat deur die wynplase Klein Roosboom met sy Kokkedoor-sjefs, Diemersdal en Groot Phesantekraal se sjefs voorgesit is. Die hoofborge was Matthew Dundas (The Southern Ford Property Group), eienaar van die Durbanville-winkelsentrum, Candor Project Management en Radio Tygerberg.
Die tema van die vieringe, wat nog talle hoogtepunte vanjaar insluit, is “Fontein van lewe” — ook verwysende na die fontein langs die Durbanville-kinderhuis, van waar die dorp sy ontstaan gehad het. Hill-Lewis en Theresa Uys, raadslid vir Wyk 112 in Durbanville, het met ‘n perdekar by die venue aangekom onder groot opwinding by gaste.

Die perdekar is gery en behoort aan Ben van der Westhuizen (61) van Durbanville. Heel toepaslik was Van der Westhuizen as 11-jarige seuntjie ook op ‘n perdewa van sy pa met die 150ste bestaansvieringe van dié kerk in 1976.
Hill-Lewis het die gemeente bedank vir hul toewyding en die liefde en die toegewydheid wat hulle oor die jare getoon het. “Julle werk transformeer lewens. Dit bring hoop aan die hopelose,” het hy gesê.
“Ek praat dikwels van die belangrikheid van vennootskappe in die bou van Kaapstad tot ‘n stad van hoop — om mense en organisasies te hê wat ‘n soortgelyke visie deel, wat ons stad diep liefhet, wat ons gemeenskappe diep liefhet en wat wil sien dat die lewe beter word vir almal. Hierdie gemeente is ‘n groot voorbeeld van so ‘n vennoot in hierdie sending,” het hy gesê.
Praktiese diens aan gemeenskap
“Terwyl ons nadink oor hierdie 200 jaar, dink ek dit is belangrik om te erken hoeveel Kaapstad, en inderdaad ons wêreld, verander het sedert 1826, toe hierdie kerk voltooi en ingewy is. Destyds is dit Pampoenkraal genoem, en daar is na die kerk en sy gemeente verwys as die Tygerbergse gemeente, wat gestrek het tot by Koeberg, Blouberg en Kuilsrivier. Dit is regtig moeilik om voor te stel hoeveel die stad verander het sedert daardie tyd — van ‘n klein dorpie tot ‘n lewendige en diverse globale metropool.
“Tog te midde van al hierdie verandering, was daar altyd die konstante teenwoordigheid van geloof. En veral in gemeenskappe soos hierdie een — standvastig en onwankelbaar, wat nie net geestelike leiding bied nie, maar praktiese diens aan die gemeenskap en ondersteuning aan diegene in nood. Hierdie kerk in besonder was ‘n hoeksteen van daardie diens aan hierdie gemeenskap vir 200 jaar, wat demonstreer hoe geloof werklik ‘n fontein van lewe in sy gemeenskap kan wees,” het hy gesê.
“Vir 200 jaar was hierdie spesiale gemeente ‘n bron van hoop en waardigheid, diens en goedheid vir so baie — nie net deur die woorde wat vanaf die preekstoel gespreek is nie, maar deur die dade van die mense wat hierdie kerk hulle tuiste genoem het. ‘n Klein besonderheid van die kerk geskiedenis, is die kerk se orrels. Die oorspronklike orrel, geïnstalleer in 1860, is in 1894 vervang, en toe later in 1966 liefdevol gerestoureer.
“Ek waardeer regtig ‘n volk, ‘n gemeenskap wat omgee oor die bewaring en viering van sy geskiedenis — gekenmerk deur die bewaring van so ‘n pragtige instrument. Dit simboliseer dat ons moet omgee vir wat ons gegee is deur diegene wat voor ons gekom het. Ons moet sorg demonstreer vir daardie erfenis en daarop bou vir die toekoms. En ons (Stad Kaapstad) doen dieselfde. Ons het onlangs ‘n volle restourasie voltooi van ons pragtige stadsaal in die middel van Kaapstad.
“Die behoud van wat mooi en betekenisvol is, word weerspieël in die werk van hierdie gemeente oor die afgelope twee eeue. Deur tye van uitdaging en verandering en selfs tye van oorlog en vrede, het die Durbanville-gemeente ‘n konstante gebly — ‘n plek waar mense nie net skuiling kan vind nie maar inspirasie om uit te gaan en ‘n verskil in die wêreld te maak.
“‘n Skitterende voorbeeld is jul betrokkenheid by die Durbanville-kinderhuis. Dankie vir die ondersteuning wat julle gee aan die kinderhuis. Jul vennootskap met die MES-sentrum van Hoop is nog ‘n uitstaande projek — die bedien van maaltye en die verskaffing van klere aan die haweloses.”
Vreugde en vervulling
“Dan het ek gehoor van ‘n wonderlike sorginisiatief waar gemeentelede gehaltetyd spandeer met die bejaardes — luister, praat, net ‘n lekker metgesel wees, liefde deel. Dit is iets wat tot julle hart spreek, die hart van hierdie kerk se sending. In hierdie wêreld wat so dikwels so besig is, om die tyd te neem om te sorg vir daardie inwoners wat soms verskriklik eensaam is. Dit is ‘n lieflike projek.
“Ek is ook geinspireer deur die werk wat julle doen in Fisantekraal, met crèches, die ID Help-projek waarin inwoners gehelp word om identiteitsdokumente en geboortesertifikate te bekom,” het Hill-Lewis gesê.
“Ek bid dat hierdie jaar ‘n feesviering ook ‘n jaar van groot vreugde en vervulling vir jul almal sal wees. Ek bid dat hierdie gemeente sal aanhou om ‘n bron van hoop en liefde hier in Durbanville en breër Kaapse gemeenskap sal wees en jul lig vir nog 200 jaar sal skyn,” het hy afgesluit.

Vier geskiedenis ter wille van toekoms
Dr. Tinus van Zyl, leraar by die kerk, het gesê “ons moet die geskiedenis onthou en vier ter wille van die toekoms, ter wille van ons kinders en kleinkinders”.
“Ons moenie die mooi dinge van die verlede weggooi in ons opgewondenheid om al die nuwe dinge te omhels nie. Ons moet die verlede bewaar, nie vir sy waarde in sigself nie, maar vir die waarde wat dit bied vir die toekoms, vir ons kinders en ons kleinkinders. Ons moet daardie nalatingskap wat ons ontvang het, koester, maar ons moet dit ook bewerk en benut sodat ons ‘n mooier gemeenskap kan bou sodat ons dit kan gebruik vir die wyer gemeenskap en vir die toekoms wat net mooier kan wees. Ons vier 200 jaar van God se wonderlike genade en seëninge. Mag ons dit bewaar maar, mag ons dit ook bewerk sodat dit tot ‘n seën sal wees en genade sal bring vir die wyer gemeenskap van ons dorp, ons stad en ons land. En wie weet, miskien selfs ons kontinent.









You must be logged in to post a comment.