Marga Jonker, ’n onderwyseres by die Durbanville Voorbereidingskool, se nuutste boek, Die Spinnebotte slaan toe! het pas by Tafelberg- uitgewers verskyn.
Jonker het aan die Weskus grootgeword en onderwys in Wellington gestudeer, maar ook ’n BA-graad (Xhosa en geskiedenis) en ’n diploma in vroeëkinderontwikkeling behaal.
Sy en haar man, PG, woon sedert 2000 in Durbanville. Hul drie kinders is al groot. Dit is net die laatlam wat studeer wat nog by die huis is, sê sy.
“Ek is van 2009 af betrokke by die Durbanville Voorbereidingskool – eers as Xhosa-juffrou, maar die afgelope drie jaar bied ek robotika en kodering aan. Ek het kursusse deur Microsoft gedoen om te kyk hoe ons skool robotika en kodering kan implementeer.”
Jonker vertel sy het ’n passie vir kinderstories en lees graag self kinderboeke vir ontspanning.
“Ek weet as ’n kind nie van lees hou nie, kan ’n mens wel so ’n kind kry om iets te lees as jy vir hom ’n storie kan voorhou wat oor ’n onderwerp gaan waarvan die kind hou. Die leerders se belangstelling gemeng met ’n versigtigheid vir robotte het die Spinnebotte-storie geïnspireer,” sê sy.
Robotika
Jonker het kursusse voltooi in die aanbied van robotika en kodering van Scratch, Blue Bot, Bee Bot, Kodable en Code.org en ook ’n sertifikasie gedoen in Minecraft Education. “Ek is baie trots op my Minecraft Education Certified Teacher-sertifikasie.”
Sy sê Adél Mostert, hoof van die Voorbereidingskool, het haar voorgestelde planne ondersteun en vloer-robotte en tablette is verkry sodat sy die vak kon begin ontwikkel. “Die kinders se passie vir die vak het daartoe gelei dat ek ’n storie wou skryf waarin kinders en robotika sentraal staan.”
Kinderboeke het haar nog altyd bekoor.
“Dis ’n kunsvorm wat ek so bewonder het dat ek besluit het om te waag, om ook deel te word van die storieskepping-wêreld van kinderboeke. Dit vervul my met groot vreugde as ek slaag met ’n storie en my uitgewer ’n manuskrip goedkeur vir publikasie,” sê sy.
Haar verhaal “Die onskadelike reënspinnekop” het omstreeks 2000 in die tydskrif Baba & Kleuter verskyn. In 2009 is twee van haar verse in die Nuwe Kinderverseboek (Tafelberg-uitgewers) opgeneem. In 2010 is haar geïllustreerde kinderboek Wat is jy, Kartoffel? deur Lapa uitgegee, wat in 2012 die Namibiese Kinderboekforum se toekenning vir die beste geïllustreerde kinderboek ontvang het. In 2011 is haar gedig “Slegs Bekendes” in Toulopers, opgeneem. Verskeie kinderboeke met perde as tema het ook al uit haar pen verskyn.
Jonker sê as sy eers ’n storie-idee het, vloei die woorde en ontwikkel die storielyne maklik – maar net as sy in ’n stil en rustige omgewing is. “Dit is nie altyd maklik om sulke stil en rustige skryf-ruimtes te vind nie.”
Tans werk sy aan ’n jeugverhaal waar natuurlewe en wetenskapsfiksie mekaar ontmoet. “Die tema is meteoriete en die ekonomiese waarde van ruimte-klippe. Ek sien egter dat ek nog robotika-stories skryf; nog avonture vir Georgi, Enzo en Frikkie. Ek werk nou aan ’n opvolg waar ons helde aan ’n Lego-robotkompetisie moet gaan deelneem.”
Gevra oor uitdagings in die onderwys en vir kinders, sê Jonker leerders moet in die algemeen toegang kan hê tot ’n gehalte- onderwysstelsel, goeie infrastruktuur, hulpbronne en gekwalifiseerde onderwysers.
“Dit is ongelukkig nie by alle skole beskikbaar nie.”
Sy sê ’n belangrike afdeling van robotika en rekenaarvaardigheid is om kinders veilig te hou in die kuberruimte. Hul kurrikulum verskaf riglyne hieroor aan leerders en ouers.
“Die veiligheid van kinders in die kuberruimte is baie belangrik, veral met die toenemende gebruik van tegnologie en die internet deur kinders.
“Stel duidelike reëls en riglyne op vir die gebruik van tegnologie en die internet. Dit kan insluit beperkte skermtyd, geen telefoon of toestelle voor slaaptyd, en die vereiste van ouerlike goedkeuring vir die aflaai van programme of die besoek van sekere webwerwe.
“Leer kinders om hul persoonlike inligting, soos hul volle naam, adres, skool en foto’s, privaat te hou. Moedig hulle aan om slegs met mense te kommunikeer wat hulle persoonlik ken en vertrou.”
Jonker sê kinders hou van speel en lag.
“Hulle hou daarvan as volwassenes weet van hul speletjies – ook hul rekenaarspeletjies.”
Sinopsis
In Die spinnebotte slaan toe! kry die Laerskool Klipdassie besoek van Dr. Ragno en sy dogter Veronica, wat vir die leerders ’n demonstrasie kom gee van die robotiese spinnekoppe wat hulle bou en programmeer.
’n Juffrou stuur Georgi, Frikkie en Enzo uit die saal. Die drie graadvyfs is net te nuuskierig en besluit om die gebeure vanuit ’n kamertjie onder die verhoog te bekyk.
Toe al die kinders en onderwysers in die saal sit, word die deure gesluit. Die nare doktor en sy dogter wys hul ware kleure: hulle is daar om die skool te besteel. Maar wat hulle nie weet nie, is dat drie baie vindingryke kinders hulle dophou, met robotiese planne van hul eie.





